Die absolute geweldadigheid waarmee ’n vyftigjarige vrou van Laaiplek vroeër vandeesmaand in Vredenburg doodgesteek is, het selfs geharde polisiebeamptes geskok.
Hoewel die lykskouing sal bepaal presies hoeveel keer Elizma Manuel van Noordhoek se moordenaar haar met die mes gesteek het, reken die polisie dat dit minstens sowat 20 keer was.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder vir die Weskus-polisiedistrik, word Christo le Roux (45) van Vredenburg van die moord verdink. Hy is in hegtenis geneem en het verlede Donderdag (20 Februarie) in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Inwoners van die Yskor-buurt in Louwville wat na skrootmetaal in die veld gaan soek het, het Maandag 10 Februarie op Manuel se bebloede lyk afgekom.
Die polisie was omstreeks 15:30 op die toneel waar Manuel in ’n stuk veld langs die Vredenburgpad (R45) gevind is. Haar identiteit kon eers dae later bevestig word toe familielede haar gaan uitken het.
Volgens alle aanduidings het Manuel en Le Roux mekaar glad nie geken nie. Hy het na bewering voorgegee om haar te gaan wys waar haar ekskêrel hom bevind. Hulle het glo vanuit Vredenburg se middedorp saamgestap.
Manuel se selfoon, sigarette en ander persoonlike besittings was om haar lyk gestrooi, so ook ’n wit kitskoshouer met slaptjips.
Die polisie het inligting opgevolg en Le Roux by sy blyplek in hegtenis geneem nadat die moordwapen in dié huis gevind is.
Le Roux kom weer op Woensdag 5 Maart in die Vredenburg-landdroshof voor.
Die polisie het bevestig dat geen ander inhegtenisnemings in die saak op hierdie tydstip verwag word nie.
Pogings om met familie van die oorledene kontak te maak, was teen druktyd onsuksesvol.
Manuel is Saterdag (22 Februarie) begrawe.





