Brent Manuel, vleuel van die Saldanhabaai-rugbyklub, teken Saterdag (22 Junie) ’n pragdrie aan in die eerste helfte van die spannende wedstryd teen Mamre, wat op die Transnet-Saldanha-rugbystadion beslis is.Foto: Alida Buckle


Mamre se dissipline het hom Saterdag lelik in die steek gelaat en die tuisspan Saldanha uit die kake van ’n nederlaag laat ontsnap.

Saldanha op sy tuisveld het die Groentruie van Kenny Stadler 35-32 geklop nadat hy rustyd 17-12 voor was. Die oorwinning het ook die voormalige Boland-kampioen weer eerste op die punteleer geplaas.

Die twee spanne het mekaar in die eerste kwart van die wedstryd deeglik beproef, terwyl die tuisspan met ’n onverdoelde drie eerste bloed geruik het om 5-0 voor te loop.

Saldanha het gesukkel om weerstand teen die Groentruie se skrums te bied.

Saldanha het egter die besoekers se swak dissipline uitgebuit en 12 punte aangeteken toe ’n Mamre-speler vir 10 minute moes gaan afkoel en Saldanha sy voorsprong tot 17 punte kon rek.

Saldanha het egter die besoekers toegelaat om die agterstand tot slegs vyf punte te laat krimp toe een van sy spelers ook ’n geelkaart gekry het.

Mamre, wat ná sy tweede geelkaart 17-32 agter was en met die tuisspan stert in die lug, het ware karakter en veggees getoon.

Die Groentruie se wil om te wen het egter sterk na vore gekom en die span het daarna die Saldanha-stadion stil gespeel. Die telling was met net drie minute speeltyd oor gelyk, en op 32 elk kon enige van die twee spanne met ’n oorwinning wegstap, maar die Groentruie se swak dissipline het die tuisspan se oorwinning danksy ’n strafskop verseker.

Die nederlaag het die troepe van Stadler een plek laat sak en hulle is nou in die agtste plek op die punteleer.

Die wedstryd tussen Young Hearts en St. Helenabaai op die Grafkelder moes weens die veld se toestand uitgestel word. Paternoster het met sy oorwinning in Hopefield na die tweede plek opgeskuif. Velddrif het met sy oorwinning in Langebaan ook twee plekke opgeskuif. Volledige uitslae:. Weskus

Nog uitslae
  • Saldanha 35-32 Mamre, Langebaan 25-33 Velddrif, Hopefield 20-21 Paternoster.. Swartland
  • Abbotsdale 27-25 Goodhopes, Darling 41-19 Riebeeck United, Moorreesburg 29-24 Never Despairs, Villagers Wittewater 24-45 Porterville en Wesbank 49-17 Saron.

    Die naweek se wedstryde: Weskus

  • Mamre t. Vredenburg, Hopefield t. Saldanha, Langebaan t. Paternoster, St. Helena t. Velddrif, terwyl Young Hearts ’n loslootjie het.. Swartland
  • Saron t. Darling, Goodhopes t. Wesbank, Never Despairs t. Abbotsdale, Porterville t. Moorreesburg, Riebeeck United t. Young Eagles, terwyl Villages Wittewater ’n blaaskans neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article