Hopefield (met die bal) word naby die doellyn platgetrek terwyl Mamre-spelers nader staan om te ondersteun.Foto: Murphy Roberts


Hopefield het Saterdag in Mamre met 3-19 teen sy gasheer vasgeval.

Die span was voor die wedstryd een van die vroeë voorlopers en was ook die gunsteling om sy onoorwonne status te behou nadat hy reeds St. Helenabaai en die verdedigende Boland-kampioen, Saldanha, geklop het.

Die span het egter die naweek in nat en winderige toestande gesukkel en met swak dissipline van beide spanne het die tuisspan sy kanse beter benut. Die besoekers het ná 20 minute hul eerste en laaste punte gekry met ’n strafskop om 3-0 voor te loop. Beide spanne het verskeie kanse geskep, maar rotsvaste verdediging was aan die orde van die dag. Die tuisspan het kort voor rustyd sake gelyk gemaak en die spanne het gaan water drink met die telling 3-3.

Mamre het die wind agter sy blad in die tweede helfte tot sy voordeel gebruik en kort ná rustyd sy neus voor gekry met nog ’n strafskop. Die tuisspan van Kenny Stadler het Hopefield daarna met skitterende verdediging op die agtervoet gedwing. Hopefield het op twee geleenthede tot sentimeters van die doellyn gevorder maar die groentruie wou nie bes gee. Mamre se wil om te wen het sterk na vore gekom en Hopefield is al twee kere verhoed om punte aan te teken danksy goeie verdediging. Mamre het egter die aartappelboere se doppie geklik met ’n verdoelde drie en nog ’n strafskop. . Saldanha het Koringberg in Saldanha met 41-9 getroef en sodoende weer die eerste plek op die punteleer ingeneem. Vredenburg se Burg Boys het op sy tuisveld 15-23 teen Velddrif vasgeval. St. Helenabaai het op sy tuisveld 14-3 met Langebaan afgereken terwyl Paternoster 12-10 in Piketberg koning gekraai het.. Volledige uitslae: Saldanha 41-9 Koringberg, Vredenburg 15-23 Velddrif, St. Helena 14-3 Langebaan, Piketberg 10-12 Paternoster en Mamre 16-3 Hopefield.. Swartland-streekuitslae:

Wesbank 6-0 Porterville, Moorreesburg 26-20 Saron, Darling 11-14 Never Despairs, Abbotsdale 26-10 Good Hopes, Villagers Wittewater 13-36 Riebeeck United.. Die komende naweek pak Young Hearts Piketberg op die grafkelder terwyl Paternoster Vredenburg onthaal. Velddrif sal op sy tuisveld teen St. Helenabaai wil wys dat sy oorwinning oor die Burg Boys geen gelukskoot was nie, terwyl Langebaan ook sal wil volpunte kry teen Saldanha. Mamre sal na Koringberg reis en met vyf sakke koring wil terugkeer terwyl Hopefield ’n blaaskans geniet.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article