Mamre het Saterdag in Darling bewys hulle is die “darling” van 7’s-rugby toe die span van Kenny Stadler in hul vierde agtereenvolgende eindstryd gespeel en hul derde titel gewen het.
Die groen truie van Mamre het Young Hearts van Pella 12-7 in die eindstryd geklop. Die span wat die meeste aandag getrek het, was egter St. Helenabaai.
Dié span het in sy eerste kompetisie van die seisoen gespeel soos ’n span wat reeds maande saam speel en het tot die beker-halfeindstryd gevorder, waar hulle teen Young Hearts vasgeval het.
Vredenburg, Langebaan en die Agterbaaiers het die Weskus se vlag hoog laat wapper in die kompetisie en het die dag goed begin. Langebaan het reeds met die openingswedstryd vyf punte gekry toe Hand and Hearts nie betyds vir hul wedstryd opgedaag het nie.
St. Helenabaai het teen Young Peoples gelyk gespeel (12 elk) terwyl die Burg Boys die Hamlets van Mamre 36-0 in hul eerste groepwedstryd geklop het.
Die Agterbaaiers het egter die krane behoorlik oopgedraai in hul tweede wedstryd en Moorreesburg se naasbestes 41-0 afgeransel om eerste in hul groep te eindig danksy ’n beter punteverskil.
Vredenburg het ook sy teenwoordigheid op die veld laat geld met ’n goeie 27-5-oorwinning om hul groepverpligtinge onoorwonne af te sluit.
Met die koring wat in die laaste 16 uitspele van die kaf geskei sou word, het eers Langebaan die Blue Stars 17-12 geklop, waarna Vredenburg op sy beurt Never Despairs se tjank 14-17 afgetrap het. Die Agterbaaiers het egter gewys hoe dit gedoen moet word en Belhar se toernooidrome in ’n nagmerrie omgekeer en die Kapenaars 33-12 getroef.
Met die drie spanne in die laaste agt het die twee finaliste egter ander planne gehad en Young Hearts het Langebaan 26-0 geklop terwyl Mamre die Burg Boys 29-22 huiswaarts laat keer het.
St. Helena het egter die tuisskare se melk suur gelaat toe hy die gasheer en toernooigunsteling Darling in hul eie melk laat stik het met ’n 17-12-oorwinning en ’n plek in die laaste vier teen Young Hearts. Young Hearts het egter in die halfeindstryd ander planne gehad en die harde eweredige wedstryd 19-12 vir ’n plek in die eindronde gewen.
Mamre het daarna ook sy hand op die trofee geplaas met ’n 14-0-oorwinning oor All Saints. Die tafel was gedek vir ’n rillerstryd tussen dié twee buurspanne.
Mamre het egter koelkop gebly en ook gewys hulle beskik oor die temperament om enige span te klop. Mamre het die opwindende eindstryd 12-7 gewen en sodoende ook sy derde titel opgeraap.
Met die Boland-rugbykompetisie wat in Maart begin, sal die 15-man-kode vir eers al die aandag geniet.





