Sy raak nou te vinnig groot.
“My kind, daardie kleindogter van my raak nou te vinnig groot. Ek kan nie glo sy loop al amper nie. Tyd vlieg te vinnig. Met die Covid-19-ding gaan die kind al groot wees voordat ek haar weer kan sien,” sê die ouma.
“Joanita, ek sê vir jou, die kind het letterlik die paar wit skoene net eenkeer aangehad. Dit pas haar nie meer nie. Weet jy wat is die sadste? Party van die ander goeters het sy net ’n halwe dag aangehad. Dis shocking,” sê die ma vir ’n vriendin.
“My kind, ek het vir haar klere vir 12-18 maande gekoop. Dink jy dit gaan pas?” vra die ouma.
“My man, dis so sad as ek daaraan dink. Kan jy glo dis die laaste keer wat ek klere gaan koop in maande? Ná die 12 tot 18 maande-klere van haar begin hulle klere verkoop in ouderdomsjare. Volgende soek ons vir haar klere vir tweejariges. Kan jy dit glo?”
Daddy. Mamma. Daadaa (wat eintlik dankie beteken). Sy koer soos ’n duif as ’n mens haar vra hoe maak ’n duifie. Hoe maak ’n skapie? ‘Meeeh’, antwoord sy. Sy hop soos ’n hasie. Sy gee high-fives. Sy raak nou te vinnig groot.
“Sy loop! Sy loop!” skree die vrou. Die pa hardloop en val amper oor sy eie voete soos hy probeer om sy balans te hou terwyl hy sy selfoon se kamera regkry. “Dêmmit, ek het haar gemis,” sê hy terwyl sy weer gaan sit en kruip.
“Die kind is so slim. Kyk, sy lees haar diereboekie en sy lees dit die regte kant om,” sê ’n trotse ouma.
“Kyk hier, sy weet hoe lyk die diere. Sussie, waar is die slang?” vra Ouma. Sussie mik-mik en wys met haar vingertjie na die slang toe. “Sussie, waar is Robbie?” vra Ouma weer. Sussie lag so half en wys na ’n blou papegaai wat nes ouma se papegaai, Robbie, lyk.
Die loopring skree op en af in die gang. “Sussie, jy hardloop te vinnig met die loopring,” skerts die ma. “Los haar, mamma. Sy moet leer om te hardloop. Eendag hardloop sy die gang op en af sonder ’n loopraam,” antwoord die pa.
“Gee vir ouma ’n soentjie,” sê die vrou en wys met haar vinger na ouma se gesig op die selfoon se video call. Mwaah, gee sussie ’n soen. “Aaaww, ouma se kleinding. Jy raak nou te blerrie oulik!” antwoord die ouma.
“Daarso. Daar,” sê die baba en wys op na die televisie. “Wie is dit, sussie? Wie is dit?” vra die pa. Babatjie antwoord hom terug: “Jay-Jie” en wys in die rigting van ’n karakter op ’n babaprogram op Netflix. “My vrou, die kind weet wie is JJ. Sy raak nou te vinnig groot,” skree die pa.
’n Baba-liedjie: “Head, shoulders. knees and toes” speel op die televisie. “Sussie – head, shoulder, knees and toes,” sê die pa soos hy met sy hande aan sy kop, skouers, knieë en tone vat. Sussie lag hardop. Sy staan regop en probeer dit opvoer soos die animasiekarakters dit op die televisie doen. Sy vat eers aan haar kop en dan dadelik aan haar voete. Die pa lag. “Mamma, sy weet hoe werk die head en shoulders-dans. Mamma, kom kyk gou hier. Die kind raak nou te vinnig groot.”





