Transnet het toestemming gekry om met groter hoeveelhede mangaan te werk, maar ’n plaaslike omgewingswaghond beplan om ’n stokkie voor dié planne te steek.
Die departement van omgewing, bosbou en visserye het op 13 Oktober omgewingsmagtiging aan Transnet Port Terminals (TPT) toegestaan om sy kapasiteit by die Saldanhahawe vir mangaanhantering en -berging te vergroot.
Die Saldanha Bay Clean Air Association (SBCAA) het Dinsdag aan Weslander bevestig die organisasie beplan om appèl teen die departement se besluit in te dien.
Die omgewingskonsultant wat deur TPT aangestel is, SRK Consulting, het op 24 Oktober ’n kennisgewing uitgestuur waarin hy geraakte partye verwittig het van die departement se besluit om omgewingsmagtiging aan TPT toe te staan en ook die partye wat belangstel, van die appèlprosedure in kennis te stel.
Volgens dié brief behels die omgewingsmagtiging dat Transnet sy mangaanberging- en hanteringskapasiteit by die veeldoelige terminaal van 360 000 ton tot 450 000 t kan verhoog sodat ’n jaarlikse deursetkapasiteit van agt miljoen ton per jaar bereik kan word.
Die omgewingsmagtiging is toegestaan kragtens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur 107 van 1998, en die gewysigde Omgewingsimpakassesseringregulasies van 2014.
Die bykomende mangaan sal aanvanklik in oop hope gestoor word totdat die nuwe bergingsfasiliteit binne die volgende drie jaar klaar gebou is.
Die toekenning van omgewingsmagtiging is onderhewig aan ’n aantal voorwaardes.
Die SBCAA is nie gekant teen ontwikkeling nie. Dit is hierdie nieregeringsorganisasie se missie om volhoubare ontwikkeling aan die Weskus se bevorder en nywerhede verantwoordbaar te hou met betrekking tot hul impak op die omgewing.
Mart-Mari Dods, ’n woordvoerder van die SBCAA, het in ’n persverklaring aan Weslander gesê die voorkoming van probleme behoort altyd bo die mitigering daarvan geprioritiseer te word.
Die SBCAA is van die mening hoewel ekonomiese groei vir die streek noodsaaklik is, die aktiwiteite in ooreenstemming met die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur se “gees van samewerkende omgewingsbestuur” bestuur moet word.
Ingevolge dié wet “vereis volhoubare ontwikkeling die integrasie van gemeenskaplike, ekonomiese en omgewingsfaktore in die beplanning en implementering en evaluering van besluite om te verseker dat ontwikkeling die huidige en toekomstige geslagte dien,” het Dods verduidelik.
“Hoewel ons nooit groei en ontwikkeling sal teenstaan ??nie, kan ons nie toelaat dat die omgewing weens enige nywerheid in die gebied agteruitgaan nie en moet ons altyd daarna streef en toesien dat die beste beskikbare tegnologie ingestel, benut en in stand gehou word.”
Dods het ook gesê alle bepalings van omgewingsmagtiging moet op ’n oop en deursigtige wyse geïmplementeer en hersien word.
Weslander het voorheen berig dat die regering op 26 September 2018 skriftelik goedkeuring aan Transnet gegee het vir die berging van sowat 300 000 ton mangaan. Dié lisensie was ’n jaar geldig, waarna hernuwing oorweeg sou word.
In 2020 het Weslander berig dat Barbara Creecy, die nasionale minister van omgewing, bosbou en visserye, besluit het Transnet moet eers ’n omgewingsimpakstudie doen voordat ’n verhoogde deurset van mangaan hanteer en geberg mag word.
In die minister se appèluitspraak, gedateer 17 Januarie 2020, noem sy dat sy ná bestudering van al die inligting bevind het dat daar gewis rede is tot groot kommer met betrekking tot die hantering van mangaan, wat die gesondheid van inwoners en die omgewing negatief kan beïnvloed.
Die respondente in die appèlsaak het aangevoer dat die verhoogde hantering van mangaan, as dit nie reg bestuur word nie, skadelik vir die mens, ekologies sensitiewe waterbronne, toerisme en die plaaslike ekonomie kan wees. Sommige van hierdie respondente het uiteindelik die SBCAA op die been gebring.




