Dit voel soos gister wat families en vriende nog saam om die Kerstafel gesit en feesvier het. Net enkele weke later bevind ons onsself weer in ’n nuwe jaar met nuwe uitdagings en geleenthede, maar dit was veral graad 1-, en ook graad R-leerders wat vandeesweek alte goed die konsep omarm het met die eerste skooldag wat gister (Woensdag) aangebreek het.
Jaar ná jaar verwag ons ’n tranedal wanneer die kleintjies vir hul eerste dag in die “groot skool” aantree, en jaar ná jaar staan ons verbaas oor hoe hierdie leerders verandering en nuwe uitdagings met groot opgewondenheid aangryp. Dikwels is dit eerder die ouers wat troos nodig het. In twee jaar, waarmee geen leerders wat voor 2020 op die skoolbanke gesit het, hulle kan vereenselwig nie, moes talle leerders – matrieks ingesluit – aan nuwe leermetodes en ander maniere van klasonderrig gewoond raak om hul skoolloopbaan te kon voortsit. Die graad 1’s van 2022 het dus ’n groot voorsprong bo hul voorgangers deurdat die meeste van hulle die afgelope twee jaar in kleuterskool of pre-primêr reeds die nodige grondslag gekry het om hul grootskoolloopbaan met vertroue te kan aandurf – ongeag die uitdagings wat in die toekoms oor hul pad kan kom. Mag 2022 elke skoolleerder in die Weskus met voorspoed en sukses begroet. Mag pouses gevul wees met skaterlag en kosbare oomblikke wat tussen maats gedeel word en mag tyd in die klas gepaard gaan met gehoorsaamheid, respek vir mekaar en ’n ywer om kennis op te doen om elkeen vir ’n blink toekoms te bekragtig!




