Agter tralies in die tronk.
‘n Maatskaplike werker by die Voorberg-gevangenis naby Porterville word aangekla van korrupsie en smoklel by die gevangenis.

PORTERVILLE – ‘n Maatskaplike werker verbonde aan die Voorberg-gevangenis naby Porterville word deur ernstige aanklagte in die gesig gestaar nadat sy na bewering verbode goedere by dié instansie wou insmokkel.

Aldean le Roux is aangekla van korrupsie en die onwettige ontvangs of besit van dokumente, bedwelmende drank, dagga, dwelms, geld of enige ander ongemagtigde artikel.

Die aanklagte volg nadat Le Roux glo 17 selfone, vyf selfoonlaaiers, ‘n paar oorfone en dagga skelm wou inbring by die gevangenis toe sy op 21 Februarie vir diens aangemeld het. Die verbode artikels is na bewering in die 47-jarige se besit gevind toe sy, soos alle personeellede by die fasiliteit, deurgesoek is voordat sy haar pligte kon voortsit.

Le Roux is kort daarna in hegtenis geneem en aangekla. Sy is sedertdien R3 000 borgtog toegestaan toe sy op 2 Maart in die Porterville-landdroshof verskyn het. Le Roux verskyn weer op 13 April in die hof.

Navrae is gerig aan Singabakho Nxumalo, nasionale woordvoerder vir die departement van korrektiewe dienste (DKD), om te hoor watter stappe die departement teen Le Roux gaan doen en of sy summier afgedank is. Teen druktyd is geen terugvoering nog ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article