Saldanhabaai-munisipa­liteit stel maatreëls in om vandale vas te vat

Die uitsig van langs die Vredenburg-gholfbaan se pompkamer af op die munisipale stortingsterrein.Foto: Alida Buckle


Die Saldanhabaai-munisipa­liteit (SBM) het reeds verskeie maatreëls ingestel om vandalisme op die stortings­terrein te voorkom, het Tereza Burger, ’n woordvoerder vir SBM, gesê.

Weslander het vroeër vandeesmaand berig oor die inbrake en diefstal op die naasliggende Vredenburg-gholfbaan (“Vandale stroop gholfbaan: ‘Dis om van te huil,’ sê bestuur”, 15 Februarie 2024).

Volgens Burger bewaak veiligheidsbe­amptes ook die stortingsterrein op ’n 24-uur-grondslag om onwettige betreders af te skrik en te verwyder. Hulle probeer so om, onder meer, vandalisme in die gebied te bekamp.

“Niemand word toegelaat om op enige stortingsterrein in die munisipale gebied te bly of oor te slaap nie, en sodanige aktiwiteit is dus onwettig.”

Burger het ook verwys na die onlangse verwikkelinge by die watersuiweringsaanleg wat aan die stortingsterrein én die gholfbaan grens. “Die veiligheid is hier ook verskerp en bewegings op die terrein word deur geslotebaankameras (CCTV) gemonitor, wat die hande van die veiligheidswagte versterk.”

In die berig oor die vandalisme by die gholfbaan vroeër vandeesmaand het Pottie Potgieter, ’n dekade lange komiteelid, voormalige klubkaptein en president asook tydelike klubbestuurder, en Alan Durant, die klubkaptein, breedvoerig vertel hoe erg die gholfbaan veral die afgelope jaar onder diefstal en vandalisme deurgeloop het.

Die hele pompstelsel is einde verlede jaar gesteel, wat die gholfbaan sonder besproeiing gelaat het. Tans ry die SBM daagliks 50 liter diesel aan vir ’n mobiele pomp om die baan in werksure te besproei.

Daar is nie ’n gebou op dié perseel wat ten spyte van diefwering en veiligheidshekke nog nie verniel is nie, en toebehore vir die trekker sowel as setperkvlaggies, sproeiers, tuinslange en plastiekdromme is weggedra.

Daarbenewens voer hulle ook ’n stryd teen omliggende kleinboere se beeste en varke wat gereeld op die gholfbaan beland en die setperke vertrap en verniel, en houtdiewe wat snags bome afsaag en die fyner takke net so in hope los, wat ’n brandgevaar inhou.

Die SBM beplan nog verdere ingrypings by die gholfbaan soos om die pompstasie by die gholf­baan te beveilig om vandalisme en skade te voorkom.

“Sodra geld beskikbaar is en goedgekeur word, beplan ons om ’n veiligheidsheining om die klubhuis op te rig.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article