Miljoene Christene van oor die wêreld heen het weer die afgelope paar weke die Via Dolorosa-pad gestap om opnuut op Paasvrydag die dood en sterwe van ’n lydende Christus te herdenk.
Dis interessant hoe die einste kruisgebeure rondom Paasvrydag in ons dag sterker as ooit vir my na vore tree. Ons leef in tye waar die mens wat hom of haarself ’n Christen noem (of nie), worstel met die vraag of ons toewyding aan ons geloof nog enigsins ’n verskil maak. Ek weet nie van jou nie, maar die afgelope klompie jare het vir my baie soos ’n duistere beproewing gevoel soos wat dinge in ons land afgespeel het. Dinge wat jou meer as een keer die vraag laat vra het of die mens dan regtig so boos en verrot in sy wese kan voortleef?
Die vrae hou nie daar op nie, want jy word elke dag deur nog erger, nog boser brokkies nuus gekonfronteer en die vraag ontstaan opnuut of ’n mens nie maar net op jouself moet fokus en die wrede aard van dit wat om ons gebeur iewers in jou kopruimte (ver weg) moet stoor nie. Of soms net maak of jy dit nie gehoor of gesien het nie. Ter wille van eie oorlewing. Om net te verseker dat jy self deur jou eie dag gevul met soveel uitdagings kan kom. Wel, hier moet ek erken dat ek maar meesal laasgenoemde toets liederlik druip, want ek kan my nou maar eenmaal net nie losmaak van die pyn en lyding van my mede-Suid Afrikaner nie.
Op pad na Paasvrydag het ek dus die afgelope tyd geleer om nog ’n keer my gebed na Bo te rig, want jy sien, ek het deur my worstel-tye kom leer dat dit die storm in my siel tot ruste bring. My konneksie met ’n Mag groter as myself het my in staat gestel om nie verlam of oorweldig te word deur die omvang van die hartseer verhaal wat hom op soveel maniere in ons land afspeel nie. My gebede na Bo laat my koers hou en bied my die perspektief om kans te sien vir nog ’n dag en om nooit op te hou om ’n stem van hoop te wees nie. Glo my, daar is die van ons wat dalk juis vanweë die omvang van soveel negatiewe gebeure maar die handdoek ingegooi het en sy of haar geloof eenkant toe geskuif het om plek te maak vir eiegewin op een of ander duister manier.
Hoe hartseer dit ook mag klink, is dit presies wat al meer en meer gebeur. Mense verkoop hul siele om die pot aan die kook te hou. Verloën die egtheid van hul geloof vir ’n saketransaksie wat gedoop is in korrupte motiewe. En as die een saadjie van onheil geplant is, volg die ander saadjie amper outomaties, want nou is ek deel van die korrupte web van die mense of dinge wat die skynbare uitweg is vir my sukkelbestaan. Hoe tragies, maar selfs met hierdie prentjie voor oë maak die kruisgebeure vir my dan nog meer sin, want dit nooi ons juis uit om die geleentheid wat daar is, om weer die lig na binne te nooi, met alle erns aan te neem.
Die Golgota-storie het my kom leer dat dit die plek van herstel en hernuwing is. Die plek van oor of weer begin. Dat Golgota die gelykmaker is vir dié wat soekend is, en bly vir die hoop en lig waarna ons almal strewe. Hoe korrup of vol sonde jy ook al mag wees, want wie van ons was nie al op een of ander wyse gekonfronteer met een of ander duister mag(te) wat van ons besit wou neem nie. En al oorwin ons die een euwel, is daar maar altyd die volgende Goliat op ons pad.
Vir die soeker na innerlike vrede sal ons altyd leer dat ons vrede slegs kan of sal kom as ons ’n draai by die kruis van Golgota gemaak het.
En as my oog nog ’n keer die euwels en onreg in ons land moet aanskou, dan bly ek biddend. Biddend vir myself en my naaste. Bly ek biddend vir al ons mense in Suid Afrika. Hou ek vas aan die seker wete dat my gebede krag dra as dit uit ’n opregte hart kom. My persoonlike ervaring van die kruisgebeure kry so ook nuwe betekenis, want dit daag my uit om nie net te bid nie, maar om ook deur my aksies hoop en lig te bring na ander. Op my unieke manier. Meer nog, bly ek biddend dat die navolgers van die kruisgebeure (myself ingesluit) so daardeur geraak sal word dat ons stemme en aksies duideliker begin hoor en gevoel sal word in ons land wat gebuk gaan onder soveel uitdagings.
Ek wil glo dat dit in ons saamstaan as ligdraers is dat hulle wat die lyding veroorsaak opnuut tot die besef sal kom dat die lig en liefde uiteindelik sal oorwin.
Mag jou Paasfees nuwe lig en lewe bring. En moenie vergeet nie – die graf is leeg. Hy het waarlik opgestaan!




