Haar liefde vir kuns in die vorm van teken en verf het op skooldae al begin, vertel Erika Gricius.

Dié inwoner van Britanniabaai vertel sy het later met verf op materiaal begin eksperimenteer.

“Vriende en familie het almal lapverf-produkte as geskenke gekry. Ek het eendag ’n kunsdoek en ’n paar basiese kleure akrielverf gekoop en met kunsklasse begin. Daarna het ek op my eie aangegaan,” vertel sy.

Gricius onthou sy het aan die begin van haar kunsreis baie straattonele geverf en by ’n kunsmark saam met ander kunstenaars in Pretoria uitgestal.

“Ek skilder graag straattonele, handelsmerk-blikkies met vetplante asook interessante helderkleurige stoele. My groot gunsteling is skilderye van skoene. Die skoen-tema het met my dogter se pragtige trouskoene begin.”

Gricius gebruik akrielverf en kombineer dit soms met gemengde medium.

Sy vertel haar inspirasie kom uit die mooi van die alledaagse lewe. Sy word geïnspireer deur musiek, aanhalings, boeke en meer.

“Kleure inspireer my, en ek hou daarvan om in helder kleure te skilder. Uit die natuur kry jy die mooiste kleurkombinasies. Wees oop vir inspirasie, want dit kom op die mees onverwagte plekke en tye.”

Die kunswêreld bied baie geleenthede aan kunstenaars. Gricius het ’n galery in 2008 in Riebeek-Kasteel geopen, waar sy tot 2015 verskeie kunstenaars se werk uitgestal het.

Sy het toe die voorreg gehad om saam met drie ander kunstenaars in die Afrikaanse leefstylprogram Pasella te verskyn.

“Om erkenning as kunstenaar te kry, kan nogal ’n uitdaging wees, maar my raad aan opkomende kunstenaars sal wees om net aan te hou skilder.

“Eksperimenteer en geniet dit. Maak kuns jou gelukkige plek.”

Gricius glo in die bekende woorde van Thomas Merton: “Art enables us to find ourselves and lose ourselves at the same time.”

Gricius se kunswerke word tans by die Brickwall-kunsgalery in Hopefield en ook by Seester Gifts & Décor in St. Helenabaai uitgestal.. Om meer oor haar kunswerke te leer, stuur gerus e-pos aan haar by erika.gricius60@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article