Met lewenskoste wat aanhoudend styg, het een van Siyabonga Care Village se programme die ondersteuning van die publiek nodig.
Chrisna du Plessis, die stigter van Siyabonga Care Village, vertel dat hul program, Huis Hadassa, op die oomblik ’n bietjie swaar trek en vra dat die publiek hul harte sal oopmaak om die program aan die gang te kan hou.
Huis Hadassa bestaan reeds die afgelope 13 jaar en sien tans om na 20 kinders wat in tydelike veilige sorg geplaas is, en 10 kinders wat permanent geplaas is. Met gekwalifiseerde personeel wat ’n groot liefde en omgee vir die kinders deel, is daar geen twyfel dat die kinders die beste sorg kry nie.
Huis Hadassa se daaglikse program bestaan uit individuele en groepwerksessies, asook individuele ontwikkelingsplanne onder meer.
Du Plessis sê die publiek was tot dusver baie goed vir hulle en Huis Hadassa besef dis baie gevra, “maar al is daar iemand wat een kind kan borg vir ’n tydperk van ’n jaar sal dit baie help,” sê sy. Tans het Huis Hadassa nog R2 500 per kind per maand nodig. “Enigiets sal help, of dit nou kos, babadoeke, toiletware, babamelk of selfs geldinsamelings ten bate van Huis Hadassa is.
Vir Du Plessis is die kinders baie belangrik en hulle lê haar na aan die hart. “Die kinders is baie kwesbaar en baie spesiaal, en verdien net die beste.”
Willdene van der Heever, Huis Hadassa se maatskaplike werker, deel dieselfde sentiment en sê dis ’n program wat ’n baken van hoop is en ’n plek van veiligheid vir die Weskus-gemeenskap wat deurslaggewende sorg en ondersteuning aan kinders en jeugdiges in nood bied.
“Hierdie program beteken vir my baie en ’n mens maak ’n verskil in die kinders se lewe,” sê Van der Heever. “Daar is skenkers en gemeenskapslede wat regtigwaar die program konstant ondersteun, maar ongelukkig het die lewe so duur geraak dat ons steeds ’n tekort het.”
Van der Heever sê dit maak haar hart seer om te dink aan die gevolge wat die sluiting van Huis Hadassa vir die gemeenskap sal hê. “Die impak op die gemeenskap sal groot wees, aangesien daar tans geen alternatiewe fasiliteite of organisasies in die munisipale gebied is wat voldoende in die unieke behoeftes van hierdie kinders en jeugdiges in krisis kan voorsien nie.”
Du Plessis bedank elke skenker en gemeenskapslid wat oor die jare soveel hulp bied. “Elke bietjie help.”
Sy vra dat die gemeenskap hul harte sal oopmaak en dink aan watter groot verskil in die lewe van hierdie jonger kinders gemaak kan word.. Vir meer inligting bel Du Plessis gerus by 083 587 5444 of stuur e-pos na siyabongacare@gmail.com.




