“Hy het my seun se oopheid en hulpvaardigheid uitgebuit.”

So sê ’n ma nadat ’n volwasse man haar tienerseun glo seksueel aangerand het.

Die Weskus se eenheid vir gesinsgeweld en seksuele misdaad in Saldanha ondersoek ’n verkragtingsaak nadat ’n werknemer van ’n onderneming in St. Helenabaai glo ’n tienerseun by sy werksplek verkrag het.

“Ek was aanvanklik bang om te vertel wat gebeur het, maar ek voel dis belangrik dat mense weet, want die werknemer is ook ’n plaaslike sportman en jongmense kyk op na hom,” het die jong slagoffer se ma gesê.

Volgens die ma is haar kind op 7 Mei, die Saterdag voor Moedersdag, deur ’n man wat hy vertrou het, verkrag.

Die tienerseun is volgens sy ma baie vriendelik en hulpvaardig.

Die betrokke dag het sy vermeende aanvaller, ’n werknemer by die onderneming, die seun glo gevra om te help om stoele na ’n perseel te dra.

Die seun het die taak verrig en volgens die ma het die werknemer toe die deur van die vertrek waarna die stoele gedra is, agter hulle toegemaak, die kind op die vloer vasgedruk en hom verkrag.

Die seun het glo om hulp geskree en die ma sê haar kind het vertel dat sy aanvaller hom toe ewe verbaas gevra het waarom hy so gil. Die werknemer het toe glo vinnig sy broek opgetrek en die perseel verlaat.

’n Klagte is by die polisie aangemeld, en die man is ’n paar dae later ná deeglike ondersoek in hegtenis geneem.

Kapt. Tania Helfrich, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, het Dinsdag aan Weslander bevestig die ma se vertelling van die gebeure stem ooreen met die seun se polisieverklaring.

Die beskuldigde, wat ’n stewige misdaadrekord het, se borgtogaansoek is Maandag 6 Junie in die Vredenburg-landdroshof van die hand gewys. Hy moet op 29 Junie weer in die hof wees.

Die ma sê sy het haar seun na ’n familielid in Kaapstad gestuur om daar aan te sterk. Sy sê haar hulpvaardige ekstrovert-kind is skielik menssku en maak hom gereeld in sy kamer toe.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article