“Ek het gevoel soos ’n mislukking.” Dís die diep woorde van ’n Weskus- moeder wie se kind jare lank geboelie is.

“Ek werk self elke dag met kinders en ouers, hoe kon ek nie die tekens raaksien nie?” het deur haar kop gemaal.

Die ma, wat anoniem wil bly, het met Weslander gedeel hoe afknouery haar 14-jarige seun ses jaar lank geraak het. Soos genoem het sy nie geweet dat haar seun hierdie pyn en seer alleen deurmaak nie. Sy is eers daarvan bewus gemaak nadat ’n ander leerder haar in kennis gestel het van hoe leerders hom daagliks by die skool afknou.

“Aangesien hy ’n introvert is, het ons altyd gedink hy is maar net stil. Maar toe ek sit, het ek besef dat hy eintlik al hoe stiller geword het en al hoe meer in sy dop gekruip het,” vertel sy.

Haar seun se selfvertroue en persoonlikheid was so gebrekkig dat hy selfs in sy dagboek geskryf het oor al die lelike wense en name wat die kinders hom genoem het en hoe hy gedink het dit sou beter wees as hy nie bestaan nie.

In haar seer en die feit dat haar seun ook deur seer gaan, het die ma soos enige ouer besluit om ’n gesprek met die ouers van die kinders te hê wat hom afknou. “Daar is gesê hulle is net kinders en ek moet dit laat gaan. Teleurgesteld in die reaksie het haar gedagtes amper outomaties die ouers pyn toegewens en dat die kinders ook kan ervaar wat haar kind ervaar. “Ek moes my self stop en besef hier is ek self besig om ’n boelie te word.”

Sy voeg by dat ouers geneig is om te besig te raak en só vasgevang is in die daaglikse storms van die lewe dat hulle vergeet om aandag aan hul kinders te gee. “Ondersteun jou kind, knyp net ’n paar minute af, vra jou kind hoe sy of haar dag was, vra oor sy maatjies en stel belang.”

Met die kennis van wat haar kind deurgemaak het, kon sy uiteindelik vir hom die nodige hulp kry deur middel van ondersteunings­groepe met ander kinders wat dieselfde deurgemaak het. “Dit is ’n onder­steu­nings­­groep wat hom laat voel het dat hy nie alleen is nie en dat alles oukei gaan wees.” Sy bieg oor die vrees dat haar ander kinders ook slagoffers van afknouery kan word, maar glo hulle weet van die belangrikheid van kommunikasie.

“Geen ouer weet hoe om dit te hanteer nie en weet nie wat volgende gaan gebeur nie. Wat ek geleer het, is geduld.”

Haar seun vorder nou baie beter en is in ’n meer gelukkige fase van sy lewe. “Dis al wat ’n ma wil hê, om haar kind werklik gelukkig te sien.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article