Tannie Ritha van Schalkwyk (middel) saam met vier van haar agt kinders – Kobus van Schalkwyk, Hannele Swanepoel, Erna Brand en Waldene Boonzaaier.


Om die ouderdom van 99 jaar te haal, is sowaar ’n mylpaal.

Tannie Ritha van Schalkwyk, ’n inwoner van Saldanha, het haar 99ste verjaarsdag Woensdag 6 Julie saam met familielede gevier.

Tannie Ritha, wat in 1923 in Calitzdorp gebore is, gee die Here al die eer omdat Hy haar tot dusver gedra het.

Haar kinders beskryf haar as ’n ystervrou wat agt kinders grootgemaak het. Hulle vertel trots hoewel sy die ma van agt kinders was, was sy toegewyd en het dit haar nie weerhou om betrokke te wees by die kerk en al die skoolorganisasies waar sy haar plek volgestaan het nie.

Sy en haar man, Coenraad van Schalkwyk, het in 1955 Saldanha toe verhuis, waar hulle by sy ouers gewoon het.

’n Erf net onder die bult van haar man se ouerhuis het beskikbaar geraak. Coenraad het gesê hy wil graag die erf koop, maar het gesê om dit ’n werklikheid te kan maak, moet hy 25 pond by die bank leen.

Haar kinders het Weslander meegedeel nadat hul pa dit aan hul ma genoem het, was sy “vyf minute later” terug met die 25 pond en het sy dit aan hom oorhandig.

“Toe hy vra waar sy aan die geld kom, het sy gesê sy het elke maand vandat hulle getroud is, ’n pond of twee ‘vir die onvoorsiene’ weggesit, en dit was die begin van hul lewensreis saam. Hulle het toe met behulp van die bank ’n lening van 50 pond gekry om hul drieslaapkamerhuis te bou.”

Die egpaar het tot haar man se afsterwe in die jaar 2000 daar gewoon.

As deel van haar verjaarsdagvieringe het André Truter, die burgemeester van die Saldanhabaai-munisipaliteit, ook blomme gestuur. Die familie het hom en die munisipaliteit vir die blomme bedank.

Tannie Ritha is nie net die trotse ma van agt kinders nie, maar ook ouma van 20 kleinkinders en oumagrootjie van 22 agterkleinkinders.

Haar geheim vir ’n lang lewe is eenvoudig: “Dis net die Here alleen,” vertel sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article