Noluvu Ludidi
‘n Klop aan die deur om te sê haar seun het iets oorgekom, was een van die grootste vrese wat Rolien
Vermeulen in die gesig moes staar.
Haar oudste seun, Gerswin Rabie (17), ‘n leerder aan die Hoërskool Diazville en ‘n inwoner van White City in Saldanha, was in die fleur van sy lewe, maar dit is in ‘n oogwink tragies kortgeknip.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ‘n
woordvoerder vir die Weskus-polisie-
distrik, is Gerswin net ná 00:00 op Sondag 20 April met ‘n mes doodgesteek. Die voorval het blykbaar plaasgevind ná ‘n partytjie wat Gerswin en sy vermeende aanvaller bygewoon het.
Wat sy dood nog moeiliker maak, is die feit dat hy slegs enkele ure voor sy aanneming Sondagoggend vermoor is.
Vermeulen moet weer die pyn van verlies dra nadat sy haar man in 2021 in ‘n motorongeluk verloor het.
Medelye het van oral ingestroom vir sy naasbestaandes, wat getuig van die invloed wat hy op baie mense gehad het.
Vermeulen beskryf haar seun as ‘n stil mens, maar ook een wat nie disrespek geduld het nie. Sy meen Gerswin het ‘n 21ste-verjaarsdagpartytjie bygewoon, waar hy nie gemaklik was met die ma-
nier waarop sy vermeende aanvaller met een van die gaste by die partytjie gepraat het nie, en het opgestaan vir wat reg is. Sy sê haar seun het sy aanvaller geken,
maar het nooit in sy geselskap en sirkel vertoef nie.
“Hy het huis toe geloop en die outjie het hom seker langs die pad gekry. Hy moes seker my kind ingewag het êrens toe dit gebeur het.”
Vermeulen beskou dit as ‘n onnodige dood en gaan haar seun se glimlag baie mis. “Hy was ‘n baie grapperige mens – laggerig – en altyd baie netjies. Sy klerekas was altyd mooi gepak en hy het baie in die huis gehelp. Gerswin het alles vir my maklik gemaak en het altyd seker gemaak oor ons veiligheid wanneer hy by die huis gekom het.”
Die jongman het groot planne vir sy toekoms gehad en wou graag ná skool verder gaan studeer. “In hierdie moei-
like tyd moet ek net sterk wees vir my kinders,” voeg Vermeulen by.
Gerswin laat sy ma, twee susters en ‘n broer agter.
• Die 18-jarige Shurief van der Merwe het Dinsdag (22 April) in die Vredenburg-landdroshof op ‘n aanklag van moord verskyn. Die saak is uitgestel en Van der Merwe sal môre (Vrydag 25 April) vir ‘n borgtogaansoek verskyn.




