Die Hopefield-inwoner Fredalaine Harmse het ’n geleentheid in die mark gesien en dit aangegryp.
Sy het haar passie vir kinders in twee sake-ondernemings omgeskep. Die een is ’n fotografie-onderneming, Meraki Reflections, wat sy in 2017 begin het, en die ander Fresh from the Stork, wat babakos verskaf en wat sy in 2020 begin het.
Volgens Harmse het haar liefde vir fotografie begin met die geboorte van haar kind toe sy self foto’s van haar geneem het. Harmse het met ’n mik-en-druk-kamera begin, wat later die gees gegee het. Dit het haar egter nie gekeer nie en sy het met haar selfoon aanhou foto’s neem van die kinders by die kleuterskool waar sy gewerk het.
’n Seëning het op Harmse se pad gekom toe ’n vriendin van haar besluit het om haar kamera te adverteer. “Ek het nog gespot en gesê as ek kon, sou ek dit koop. Sy het daar en dan gesê ek moet die kamera neem en haar betaal soos ek kan.
“Fotografie is nie vir my werk nie, maar eerder ’n ontsnapping uit die werklikheid van my alledaagse lewe. Ek beweeg deur daardie klein lensie in iemand anders se lewe en wêreld in. Ek sien liefde, ek sien omgee en ek sien pret en lag.”
Vir Harmse is dit ’n eer om gekies te word vir groot oomblikke soos troues, ’n baba se 1ste verjaarsdag of selfs ’n matriekafskeid. “En om dan daardie emosies te probeer vasvang sodat dit vir hulle ’n ewigheid herinneringe sal bring – dis die groot uitdaging.”
Fresh from the Stork het begin toe Harmse bedags na ’n vriendin se baba omgesien het. “Toe hy reg was vir eet, wou hy niks weet van haar kos nie. Ek het toe groente gaar gestoom en verwerk en hy het heerlik daaraan gesmul.” Met die voorstel dat Harmse haar eie babakos-besigheid begin, het sy die uitdaging aangepak.
“Ek het begin deur die kos in ys- bakkies te vries, want een blokkie is die ideale hoeveelheid vir ’n baba wat pas begin eet het. Ongelukkig met Hopefield se hitte was die ysblokkies ’n reuse- uitdaging as dit verpak moes word. Ons het omgeskakel na klein bakkies en ’n mooi kenteken laat ontwerp.”
Harmse het ook ’n eetplan by ’n pediater gekry om pakke daarvolgens vir ma’s te maak. Sy glo die konsep maak die lewe makliker vir ma’s.
“My kossies word met liefde gemaak. Net die beste produkte word gebruik. Geen byvoegsels soos sout, suiker, kleursel of preserveermiddels nie. Ek maak elke bakkie kos self, en my pakke is so verpak dat die baba ietsie van alles kry. Die porsies is presies wat jy nodig het. En dis gerieflik.”
Harmse se droom vorentoe met Fresh from the Stork is om haar onderneming uit te brei en ma’s met ’n geruste hart kan gaan werk en weet hul kinders het voedsame kos, al is hul tyd so beperk.
“Met Meraki Reflections het ek net een doel en droom – dit is bekostigbare fotografie vir ’n ieder en ’n elk en dat almal eendag foto’s het om teen hul mure te sit.
“Almal verdien dit om herinneringe te maak en te koester.”





