Die dae van links sit is verby – klim agter die stuur in.
Dit is die raad van Patricia Jantjies van Maryna’s Learners Academy Saldanha. Hier kan voornemende bestuurders onderrig kry in die nodige kennis om uiteindelik hul rybewys te kry.
Jantjies (51) sê meer en meer van haar studente is van die skoner geslag en is ook ouer as wat die meeste mense sou dink. “Die oudste student wat ek gehad het, was 75 jaar. Sy het besluit om haar leerlinglisensie te kry nadat haar man siek geraak het. Hulle was in die middel van nêrens, op pad na die Noord-Kaap en sy kon nie bestuur nie. Hy moes siek-siek tot op die volgende dorp ry, maar sy het besef hulle was in die moeilikheid,” vertel sy.
Jantjies sê baiekeer het vroue net langs hul man gesit en nie veel moeite gemaak om self te leer bestuur nie. Deesdae kan die gebrek aan ’n rybewys, of minstens ’n leerlinglisensie, ’n struikelblok wees vir alles van ’n werksgeleentheid tot ’n vrou se veiligheid, meen sy.
Die akademie is deur Maryna Jacobs begin, en spog met ’n 98%-slaagsyfer. Jantjies sê trots die meeste van die suksesvolle studente slaag met volpunte. “Ek kan gou sien wanneer iemand sy rybewys gekoop het. Mense wat aan die verkeerde kant van die pad parkeer, diegene wat nie padtekens volg nie en nog baie meer.”
Jantjies sê in haar ondervinding ken baie plaaslike voornemende bestuurders nie die nodige padtekens nie, verstaan nie padreg (right of way) nie en hou nie by die hoof Suid-Afrikaanse padreëls nie. “Ek het eens ’n vierrigtingstop vir ’n student gewys. Hy sê toe hy het nog nooit só iets teëgekom nie. Ek moes verduidelik die stop by Shoprite, die taxistaanplek en Ackermans is dan een van hierdie.”
Haar passie om meer vroue agter die stuur te kry is so groot die akademie het selfs ’n pakket vir Vrouemaand aangebied, maar benewens die hartsaak meen Jantjies dit is ’n goeie sakebesluit. “Om self en alleen ’n onderneming te hê is moeilik, maar ek weet my passie lê by mense. Destyds het ek bemarking gestudeer, maar moes my studies los om na my ouers te kyk. Daarna het ek begin skoonmaakwerk doen.
“Nou, jare later, is ek by die akademie en ek kan my kennis en vaardighede gebruik om mense se lewe te verryk. Dit is wonderlik om ander te help bemagtig en op te hef.”
Sy raai enigeen aan wat hul eie onderneming wil begin om hul passie te vind want dit is haar resep vir sukses. “Dit maak nie saak wat jou passie is nie. Indien jy jou passie vind en lief is vir wat jy doen, kan jy die struikelblokke van die sakewêreld oorkom.
“Ek is ’n ma van vier kinders en om vir hulle te sorg hou my gemotiveerd. Mense dink om ’n onderneming te hê beteken jy het ’n groot kantoor in die dorp, maar ’n klein begin is ’n goeie begin. Al moet jy vanuit jou huis werk, daar is niks fout daarmee nie,” meen sy.
. Besoek Maryna’s Learners Academy Saldanha se Facebookblad vir meer oor die klasse wat aangebied word.





