’n Gru-ontdekking is in ’n plaashuis in die omgewing van Hopefield gemaak.
Die oorskot van ’n mens wat klaarblyklik al maande terug dood is, is op ’n bed in die betrokke plaashuis gevind.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, het ’n inwoner van ’n plaas in die Hopefield-omgewing Sondag 30 Oktober op ’n naburige plaas gaan ondersoek instel en om 19:00 op ’n ontbinde liggaam in die plaashuis afgekom.
Die inwoner wat die lyk ontdek het, is vroeër versoek om na die genoemde naburige plaas, geleë tussen Hopefield en Malmesbury, te gaan omdat dit onbewoon en onbewerk is en mense nie gereeld daar kom nie. Hy is gevra om te gaan kyk of alles op die plaas nog pluis is aangesien huisbrake en diefstal sporadies in die omgewing plaasvind.
Weens die gevorderde stadium van ontbinding word vermoed dat die liggaam van die oorledene moontlik al ’n geruime tyd in die huis lê.
Helfrich sê egter die lykskouingsverslag sal bevestig hoe lank die mens al dood is en wat die geslag is, asook die oorsaak van die oorledene se dood.
“Dit lyk egter of die oorledene nie ’n plaaslike inwoner is nie, aangesien niemand as vermis aangemeld is nie,” het Helfrich verduidelik.



