Goedheid en guns vir Louwville se bejaardes.
Dít was die Kerswense van die Lethemba Care Projects-span, wat Saterdag ’n Kersete vir seniors in die Vredenburg- buurt aangebied het. Oumas en oupas het saam vermaak en ’n ete geniet danksy die organisasie en sy talle vrywilligers.
Elton Lesch het poësie voorgedra terwyl Vernon Vraagom en Anton Scholtz hul sangtalente ten toon gestel het.
Benewens al die musiek en spirituele dans op die dag blyk dit dit was die samekoms wat die bejaardes meer as enigiets anders geniet het.
Volgens pastoor Gereldo Pieters, stigter van Lethemba, is dit hom op die hart gedruk om ’n organisasie te stig wat die lewe van bejaardes en kinders in die gemeenskap help verryk. Hy sê die organisasie bied die geleentheid vir mense om in hul gemeenskap terug te ploeg.
Die geleentheid is by Margaret Bruintjies se groentetuin gehou. Bruintjies het in 2011 besluit om ’n groentetuin in haar agterplaas te begin. Sedertdien het dit gegroei tot ’n uitgebreide gemeenskapsprojek wat sy en haar familie saam bedryf.
“Niks wat jy het, is joune nie. Dit behoort nie aan jou nie. Dit word deur God slegs vir jou geleen. Die Here het lank terug vir my gesê daar sal altyd genoeg wees, en genoeg om vir ander ook te gee,” verduidelik sy.
Bruintjies het die gaste gemaan om hul goue jare te geniet en nie net vir hul kinders en kleinkinders te leef nie.
Euphrecia Delport, wat ook ’n sangitem gelewer het, meen daar is so baie bejaardes wat deur moeilike omstandighede gaan waarvan niemand anders mag weet nie. Sy het die seniors aangemoedig om hul leed te deel en gehoop die lied wat sy gesing het, “Goodness of God”, sal hulle bemoedig.
Lena Eiman (83) het aan Weslander gesê sy het die dag baie geniet. “Dit was ’n wonderlike dag. Ek is trots op pastoor Jerry en sy span. Hy het voor my grootgeword en kyk net die mooi geleentheid wat hy vir ons gehou het,” vertel Eiman.
Na afloop van die ete het die bejaardes nie met leë hande huiswaarts gekeer nie. Danksy skenkings is elkeen met ’n stewige kospakkie en geskenk huis toe.
Pieters bedank elkeen wat ’n bydrae gelewer het om die dag ’n sukses te maak.. Lethemba Care Projects hou Saterdag (16 Desember) ’n soortgelyke geleentheid vir die kinders van Louwville.
Enigeen wat ’n bydrae kan gee, word gevra om hand by te sit. Bel Pieters by 083 766 4922 of kontak hom by lethembacareprojects@gmail.com om meer uit te vind.





