Louwville-matrikulante ruk op na onderwyskantoor oor skoolbaadjies


Matriekleerders van die Hoërskool Louwville het verlede Donderdag (24 Augustus) na die onderwyskantoor in die dorp opgeruk om onder meer te kla dat hulle nog nie hul matriekbaadjies ontvang het nie. Hulle het ook ander griewe gelys in ’n memorandum wat hulle oorhandig het.

Volgens die leerders is hulle, benewens die matriekbaadjies, ook ongelukkig oor die reëlings vir hul matriekafskeid.

Een ouer het aan Weslander vertel dat druk op ouers geplaas is om die geld vir die matriekbaadjies so gou as moontlik oor te betaal, maar tot nou toe het hulle dit nog nie ontvang nie.

“Van die ouers het nie destyds die geld beskikbaar gehad nie, maar moes inderhaas skuld gaan maak om die geld vir die baadjies te bekom,” sê die ouer.

Die skool het ’n brief uitgereik waarin hy ’n vergadering met die ouers op dieselfde dag versoek het.

Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, het die skool ’n uitdaging ervaar met die eerste verskaffer wat verantwoordelik was vir die aflewering van die baadjies wat vir 2023 se gr. 12-leerders bestel is.

“Die skool het toe ’n nuwe verskaffer gekies, wat die vertraging veroorsaak het. Die saak is opgelos nadat die skoolhoof Donderdag 24 Augustus met die ouers vergader het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article