Ek kry ’n boodskap op my selfoon wat sê ek was die afgelope week soveel ure op my selfoon bedrywig. En dan nogal ewe dat dit een uur en 15 minute meer is as die vorige week. Synde my vrou van tyd tot tyd reken ek is te veel op my foon, is dit nou nie juis die soort inligting wat ek graag onder my neus gevryf wil hê nie.
Ja, ons hedendaagse wêreld is intens tegnologies gedrewe. Sonder ’n selfoon of ’n rekenaar is dit deesdae bykans onmoontlik om sake of bankwerk te kan doen. Daarbenewens raak kontant al meer ongewild. Moet tog nie probeer om kontant by die bank te deponeer nie, want die bank wil dit nie hê nie. Ja, kontant is nie meer koning nie, maar deesdae eerder die skurk in die verhaal.
Selfs by sogenaamde vlooimarkte of “craft markets” het elke verkoper deesdae ’n elektroniese toestel waarmee hulle kredietkaart-, snapscan- of selfoon-betalings kan akkommodeer. Vir die jongmense wat met al die tegnologiese wonders grootgeword het, is dit ’n gemaklike manier van doen, maar baie van die ouer garde vertrou nie altyd die nuutste ontwikkelinge wat vir hulle maar ietwat volksvreemd is nie.
Tog is daar ook baie lekkertes wat die internet moontlik maak. Ek het byvoorbeeld vyftien radiostasies van oor die hele land wat op my rekenaar gelaai is en ek kan met die kliek van ’n muis van een stasie na ’n ander oorskakel as ’n sekere program my nie geval nie.
Ja, ons beleef inderdaad baie veranderings. Sakeondernemings wat ’n mens amper wil sê nog altyd daar was, is besig om swaar te kry, aangesien die vraag na hul produkte of dienste besig is om deur tegnologiese vooruitgang uitgerangeer te word. Dink maar aan die Poskantoor en Telkom wie se sakemodelle ernstig deur die uitbreiding van internettegnologie ontwrig is. Ons pos nie meer briewe nie, ons stuur nie meer telegramme of geld met posorders nie, so waarmee moet die poskantoor nou geld maak?
Een ding is seker – die voortdurende ontwikkeling van verbeterde tegnologie maak gewis ons lewe op vele terreine makliker. Dikwels is dit klein veranderings wat so byna ongemerk deel van ons lewe raak.
Deesdae hoef ’n mens nie meer jou nek af te draai om met jou motor agteruit te ry nie. Nee, die motor het ’n kamera agter en jy kyk op die skerm op die konsole om te sien wat agter aangaan, selfs met sensors wat jou waarsku as jy te naby aan iets kom.
Ongelukkig gebeur dit, soos ek aanvanklik genoem het, dat al die tegnologiese wonderlikhede ’n mens se tyd en aandag kan opslurp.
Dit is nie moeilik om vas te haak op Facebook, Twitter, Pinterest, WhatsApp en wat nog alles nie. Selfs by ondernemings vind jy dikwels dat werknemers meer in hul selfone as in die kliënte wat hulle moet bedien, belangstel.
’n Mens wonder eintlik wat het ons gedoen toe daar nog nie selfone was nie? As my vrou dorp toe gaan, vra ek: “Het jy jou selfoon?” Netnou dink ek aan iets wat ek wil hê sy moet saambring, of dalk raak ek bekommerd as sy lank wegbly; dan wil ek darem kan bel en uitvind of sy nog oukei is.
Omdat selfone deesdae almal kameras het, lyk dit my kan ons ook niks meer doen sonder om foto’s te neem nie. Die mense wat onlangs internetinstallasies in ons omgewing gedoen het, neem foto’s van elke ding wat hulle doen, selfs hoe die leer staan waarop hulle klim, sodat hulle vir hul werkgewer kan wys dit was veilig.
Op sosiale media sien ons weer voortdurend wat mense in restaurante eet of waar hulle op ’n paviljoen sit om rugby te kyk, ens.
Voeg daarby die toepassings (apps) wat kan aandui hoeveel treë jy vandag gestap het of een wat jou moet wys of jy genoeg geslaap het. Ek moet sê, my lyf vertel my ook wanneer ek te min slaap kry, maar miskien luister ons makliker na die toepassing as na ons liggame.
Ek wonder waar gaan ons die streep trek tussen tegnologie wat vir ons nuttig is en tegnologie wat ons lewe beheer?





