Die Malgas Lionsklub is trots om hul nuwe president, Wayne Killian, bekend te stel.
Dié Saldanha-inwoner is op Saterdag 24 Junie as die klub se nuwe president vir die 2023-’24 termyn ingesweer.
Killian sê dit is vir hom ’n groot eer om in die rol as president van die Malgas Lionsklub te dien.
Killian is sedert 2015 by die Uitenhage Lionsklub in die Oos-Kaap betrokke. Met die skuif Weskus toe in 2019 het hy by die Malgas Lionsklub aangesluit.
“Ek bedank die lede van Malgas Lionsklub dat hulle die vertroue in my geplaas het om hulle te lei in hierdie Lionsjaar.”
Wat die oomblik nog merkwaardiger maak, is die feit dat die Malgas Lionsklub ook vanjaar sy 60ste bestaansjaar vier.
Dawn Poole, voormalige president van dié klub, wens Killian sterkte toe en glo hy sal die klub van krag tot krag opbou.
Killian sê in sy nuwe rol wil hy meer toegewyde lede werf om aan te sluit by die klub om dit sterker te maak. “Sodat ons van krag tot krag kan gaan.”
Daar is baie planne in die pyplyn vir Killian, soos om kwartaalliks ’n groot geldinsameling te hou met die doel om die geld terug in die gemeenskap te ploeg.
Die klub se eerste geldinsamelingsprojek is die perdereisies in St. Helenabaai wat Saterdag 5 Augustus plaasvind. Die klub bied ook ’n sopkombuis op Dinsdagoggende, waar sowat 250 mense sop en brood ontvang. “Ons wil graag die gemeenskap vra vir hulp met sopbestanddele om dit vir ons moontlik te maak om voort te gaan.”
. Inwoners wat belangstel om deel te word van die Malgas Lionsklub, kontak Dawn Poole by 084 788 6523 of Killian by 084 300 4200.





