Opgewonde om saam met Lindie Stander (middel voor) tyd deur te bring is (van links) Chrissie Arendse, Anna-Marie van der Merwe en Chantag Arendse.


Die probleem is, ons dink ons het tyd, het die bekende aktrise van Binnelanders-faam, Lindie Stander, aan meer as sestig gaste by haar boekvoorlesing in Langebaan gesê, waar sy ook onthul het dat veelvuldige sklerose ’n paar weke vantevore by haar gediagnoseer is.

Die gaste het verlede Donderdagaand (20 Julie) by Nadea Victor en haar man, Adriaan, se Oorgenoeg-landgoed op Longacres bymekaargekom om meer oor Stander se nuwe boek, Agter my glimlag, te kom uitvind.

Prontuit, sonder doekies omdraai en blatant eerlik. Só het Stander verduidelik dat sy die volgende dag haar neuroloog moet gaan sien en uitwerk hoe sy “hierdie ding gaan beveg”. Net nog ’n uitdaging om te oorkom.

By tye brutaal reguit is ook die styl waarin sy haar boek geskryf het; ’n boek waardeur die leser gly, soms sonder om behoorlik asem te haal. ’n Seepgladde vertelling van ’n gekompliseerde lewe, maar ook een van hoop en wat nou wemel van persoonlike oorwinning.

Stander het haar hele lewe neergepen en vertel dat sy aangesê is om bykans40 000 woorde te sny, maar dit wat in die boek oorgebly het, is die kern van haar verhaal. Dit handel onder meer oor haar kinderjare-traumas wat daartoe bygedra het dat sy op die kruin van haar loopbaan geestelik geknak en as gevolg van dwelmgebruik byna-byna alles verloor het, insluitend haar rol as die pittige Elise in Binnelanders; ’n rol wat haar ’n liefling- Suid-Afrikaanse sepiester gemaak het.

Ná vele mislukte selfmoordpogings en ’n rowwe, selfontdekkende verlossingsreis, bly Stander deesdae in Langebaan. Sy is gelukkig getroud en gee dramaklasse by skole in Langebaan.

Haar raad om heel te word, is om na jouself te kyk. “Soek die vyfjarige dogtertjie, ’n weerlose klein mensie, wat net opgepas, gekoester en liefgehê wil word. As jy kwaad raak vir jouself, jouself kasty, goeters dra en goeters wil regmaak wat jy nie gebreek het nie … gaan vind daai vyfjarige dogtertjie binne jouself, en maak seker daai kleine-kleine mensie weet: sy is geliefd.”

Stander het ook verduidelik dat sy geleer het om goed uit die verlede te hanteer deur dit in afskortings, “pakkies”, te sit.

Sy glo ook dit is belangrik dat mense tyd maak om iets opbouends vir hulself te doen. Sy stap.

“Ek gaan toets my life force to the extreme wanneer ek 800 km in 28 dae probeer stap. Dis soos om alleen in ’n storm in te stap, en jy weet dat jy beslis nie dieselfde mens anderkant gaan uitstap nie. Dit is net jy wat daardeur kan loop.”

Sy het ook die gaste aangeraai om meer tyd vir hulself te maak, selfs net deur ’n bietjie langer stil in hul eie geselskap te sit.

Stander hou van wie sy nou is. Dit het haar agt jaar geneem om by dié punt uit te kom, saam met die skrywery aan die boek en die feit dat Binnelanders haar teruggevra het.

“Ons verloor nie onsself nie, ons vergeet net wie ons is. Ek is nie elke dag volmaak nie. Ek het ook foute. Maar, ek kan aan die einde van die dag sê: ek is goed genoeg.”

Lees gerus die boek en vind meer uit oor engele, gekompliseerde verhoudings met ’n ma, ’n betekenisvolle wit klippie en ander temas waarmee die meeste mense sal kan identifiseer.

Louise Lategan, assistent-bestuurder van Bargain Books in Laguna Mall wat die aand gereël het, het almal bedank wat dit moontlik gemaak het, waaronder Lutzville-wyne, Huguenot Valley-water, West Coast Garage Doors, Carmién-tee en die Oorgenoeg-landgoed.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article