“Kom ons stap mekaar huis toe.”
Dít was die boeiende boodskap waarmee Lindie Stander gaste by Weslander se Vroueontbyt op 4 Augustus gelaat het.
Lindie, bekende vir haar rol as die pittige Elise in kykNET se Binnelanders was die gasspreker vir die oggend wat by die Saldanhabaai-hotel gehou is.
Pront en eerlik het sy kortliks vertel van haar stryd teen dwelmverslawing, wat haar amper permanent haar rol by Binnelanders gekos het, haar liefde vir stap wat al verskeie Camino-togte ingesluit het, haar vele mislukte selfmoordpogings en ’n rowwe, selfontdekkende verlossingsreis.
Haar volledige vertelling is alles saamgevat in haar eerste boek, Agter my Glimlag, wat tans op die rakke in vooraanstaande boekwinkels is.
Lindie vertel hoe sy deur haar reis uiteindelik die eenvoud van die lewe leer waardeer het, hoe sy leer gee het “omdat ek besef het hoe baie ek eintlik ontvang”.
“Kom ons stap mekaar huis toe, kom ons wees mede-pelgrims, kom ons onthou dat ons is nie alleen op hierdie reis nie.
“Ons wil almal by ons eindbestemming uitkom, wat dit ook al vir jou is of wat dit vir jou verteenwoordig, al is dit net die einde van vandag. Jy hoef nie alleen te stap nie. En moenie – vra vir hulp; almal stap mekaar huis toe. Terwyl jy een voetjie voor die ander sit, stap aan, stap saam. Ek sien julle in Santiago,” het sy afgesluit.
Stander woon deesdae in Langebaan. Sy is gelukkig getroud en gee dramaklasse by skole in Langebaan.
Weslander bedank ook graag die Saldanhabaai-hotel vir die venue en ontbyt, Soverby-lapa vir die dekor op die tafels, Ronel’s Bloemiste vir Lindie se blomme en ook al ons borge wat pryse geskenk het vir die vroue se geskenksakkies en gelukkige trekkings. . Vir nog foto’s van Weslander se Vroueontbyt, besoek gerus ons Facebookblad.





