Ons ry so ’n week gelede met die Bergrivierpad langs op pad na ons vakansiehuis in die Weskus-dorp Velddrif. Met die indraai na die Bergrivierstasie slaan my asem weg oor die skoonheid en die baldadigheid van die blommeprag in sy volle glorie van die Liewe Heer se tuin – stroke en stroke oranje, pers, geel en groen; noem maar op!
Langs my sit my plantpatoloog-man en bombardeer my met wetenskaplike name van die meeste plante wat ek in elk geval nie sal onthou nie.
En met ’n siek verlange maak ek my oë toe en verlang na my veldkind-ouma, Ouma Lettie van Kruispad, by wie ek die eenvoudige Sandveld-blommename leer ken het. Ek sien haar nog met die hardgestyfde groen kappie met die knopies wat tussen die plootjies agter die rand wegkruip, haar lang blommetjiesrok en die plat veldskoene.
Haar huisie het ’n rietdak, ’n vuurherd en ’n misvloer-kombuis gehad. Ons kinders is soggens vroeg wakker gemaak met die geur van sterk, swart koffie met groot lepels suiker in, en boerbeskuit. Ons moes gou aantrek, want as die sonnetjie opkom, moet ons die riempies wat Ouma laat sny het, reg hê om fyn houtjies in die veld te gaan optel – nie dat ons veel kon dra nie, maar die opwinding was om al in die uitgetrapte sandpaadjie houtjies te breek, op ons riempie te pak en agter op die rug vasgemaak, agter Ouma aan te dra. Die rede hoekom, sal ek later vertel.
Daar het my leerskool van veldblomname by my ouma begin – die blou weeskindertjies teen die lupine-land se draai; die see van oranje en geel gousblomme. Ons moes versigtig trap en nie die hartseertjies raak trap nie, want hulle is skaars en die blommetjies val vinnig af as jy aan hulle raak.
Ouma stap vinnig verby die ghoeibos om vir ons laasjaar se koekemakranka-plante te gaan wys. Ons grawe al langs die krulblaartjies en ontdek die heerlike geur van die vet koekemakrankas.
Nou verder stap.
Ons pluk so skelmpies twee viooltjies en trek die steeltjies oormekaar asof ons op ’n regte viool speel. Ons loop lig, want vir Ouma is die pluk van veldblomme ’n regte sonde. Sy waarsku ons gedurig om versigtig langs die katdoring-bosse te stap, want as hy jou rok met sy doringarms vasgryp, gaan jy met ’n lang skeur huis toe.
Die katdorings is natuurlik ook die blyplek van die lekker elsie-plant met sy fyn trossies pienk blommetjies – net versigtig pluk. Loop lig verby die pragtige melkbos met sy pragtige geel blommetjies, want daardie taai, wit melk uit sy stammetjies vlek jou klere lelik.
Die varkslaai se geel blomme bly maar ’n fees vir die oog, en moenie eens praat van die pers skulpadbessie-bosse wat soos groot groepe konings bo die ander bosse uittroon nie.
Tussen die ghoeibosse en die klapperbosse groei die snotgheibie, die geelsterretjie, perdevye, kammalielies, sandlelies, suringpypies en veldkool.
Dan die opgewonde stem van een van ons wat ’n blou-lelie gekry het. As jy egter die aandblommetjie kry, pluk ’n bossie, sit dit in ’n glasie in jou kamer, want vannag as hy oopgaan, ruik jou hele kamer na dié hemelse geur.
’n Vaalkalkoentjie is ’n groot vonds, maar ’n rooikalkoentjie oortref alles.
Dan, met die bondeltjie hout op elkeen se rug, durg ons die voetpaadjie terug huis toe aan.
Nou die rede vir ons staptog: Die houtjies is vir Ouma se grondvuur onder die groot ou bloekomboom. Daar sit sy letterlik die hele dag op haar groen houtbankie met die “W”-voete langs die kante en lees haar amper voos-geleesde ou Bybel die hele dag met haar knypbrilletjie op. Soms onderbreek sy dit met ’n hallelujah uit haar groen boekie, met ’n krakerige stem.
Ek wens ek kon dit nog een maal hoor…





