Inwoners van Vredenburg en Paternoster was Maandag aangenaam verras toe hul ligte om 12:00 aanbly.
Dié onderbreking van hul kragonderbreking-skedule (beurtkrag) volg ná probleme by die Vredenburg- provinsiale hospitaal. Volgens die departement van gesondheid se woordvoerder vir die Weskus, Leensie Lotter, is die elektrisiteitstoevoer nie soos gewoonlik ná die oggend se beurtkrag herstel nie.
“Die elektrisiteitstoevoer van die munisipaliteit is nie aan die einde van die beurtkragsessie suksesvol herstel nie. Dit het daartoe gelei dat geen elektrisiteit – en dus ook geen watertoevoer – na die hospitaal moontlik was nie. Die kragopwekker, wat tydens en ná beurtkragsessies veronderstel is om outomaties aan en af te skakel, is toe met die hand aangeskakel,” verduidelik Lotter.
In die geval van sommige hospitale word elektrisiteit regstreeks van ’n kraglyn verkry, wat direk aan- en afgeskakel kan word. Die plaaslike hospitaal is egter deel van die groter dorp-elektrisiteitsnetwerk, wat beteken om die hospitaal 24 uur per dag elektrisiteit te voer, beteken die omliggende gebied se ligte moet ook aan bly.
Ethne Lawrence, ’n woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, sê die vergunning wat Vredenburg en Paternoster nou kry, word deur Eskom bepaal.
“Die Saldanhabaai-munisipaliteit het dus geen inligting oor hoe lank die tydelike situasie gaan voortduur nie. Dit kan enige tyd gestaak word, en daarom moet ons steeds die beurtkragskedules respekteer,” het sy Woensdag aan Weslander gesê.
Hoewel dienste by die provinsiale hospitaal Maandag tydelik geraak is, is alle dienste nou weer operasioneel.

