Tien mense is Dinsdagoggend (18 April) na die Vredenburg- provinsiale hospitaal geneem ná ’n ongeluk op die St. Helenabaai-pad, waarin ’n taxi in ’n ander taxi vasgery het.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrik, is die insittendes vir ligte nekbeserings en skok behandel. Niemand is ernstig beseer in die voorval wat omstreeks 07:30 plaasgevind het nie.
Lede van West Coast Medical Rescue (WCMR) is op die toneel naby die West Point-visfabriek deur Metro EMS-ambulansdienste sowel as Saldanhabaai se brandweer- en verkeersdienste bygestaan.
In nog ’n ongeluk, op Donderdag 13 April het nooddienste gereageer op berigte van ’n voertuig wat langs die pad tussen Vredenburg en die St. Helenabaai-afdraai lê.
Met WCMR-paramedici se aankoms op die toneel het die voertuig op sy dak gelê, maar die insittendes was skoonveld.
Daar was geen tekens dat hulle in die voorval beseer is nie.
Die WCMR doen ’n beroep op die publiek om versigtig te wees op die paaie, veral in die vroeë oggendure.




