Die St. Helena Sandveld-hospies is op soek na vrywilligers om in sy drie liefdadigheidswinkels te werk.
Die onderskeie winkels is in Vredenburg, Saldanha en Langebaan geleë.
Die hospies se dienste behels die verbetering van die lewensgehalte van mense van alle ouderdomme wat aan siektes ly wat nie meer op kuratiewe behandeling reageer nie. Die versorging vind plaas in die gemak van die pasiënte se eie huis.
Om hierdie diens volhoubaar beskikbaar te maak aan elkeen wat dit nodig het, is voldoende finansiering nodig.
Die hospies word nie deur die staat gesubsidieer nie en moet sy eie geld insamel.
Klere, beddegoed en huishoudelike benodigdhede word aan dié winkels geskenk en as ’n inkomstestroom ten bate van die hospies verkoop.
Die dienste van toegewyde vrywilligers word benodig om hierdie winkels oop te hou.
Vrywilligers hoef slegs ’n paar uur per week of maand van hul tyd aan hierdie verdienstelike saak te skenk.
Sommige van die St. Helena Sandveld-hospies se vrywilligers werk al langer as tien jaar vir die organisasie en sê dis uiters bevredigend om te voel hulle maak ’n verskil in hul gemeenskap.. Enigiemand wat graag by die liefdadigheidswinkels betrokke wil raak, kan Jill Snyman Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 09:00 tot 13:00 by 022 713 3738 bel.





