Angelo Johnson se jongste liedjie “Mal Verlief” en die meegaande musiekvideo word die maand vrygestel.Foto:


Die maand van liefde dien as groot inspirasie vir plaaslike musiekkunstenaars.

Angelo Johnson (20), ’n musiekkunstenaar van Malmesbury, is een van dié kreatiewe siele. Johnson beplan om in Februarie sy nuwe enkelsnit en musiekvideo “Mal Verlief” vry te stel.

Volgens Johnson was musiek nog altyd ’n deel van sy lewe.

“Dis nie net ’n ding wat ek wou doen nie, maar dis ’n talent wat van my oupa af oorgedra is na my ma toe en so na my toe.”

Dit is tydens sy hoërskooljare dat Johnson die besluit geneem het om musiek ernstig op te neem. Hy het toe sy heel eerste enkelsnit “Jy’s my rede” vrygestel.

Johnson verduidelik dat sy nuwe lied “Mal Verlief” oor sy eie persoonlike storie en verhouding met sy meisie gaan.

“Dit gaan oor hoe die verhouding begin het en delf ook in hoe mans nie altyd die moed het om ’n meisie te nader nie, juis omdat hulle bang is vir verwerping,” vertel hy.

Sonder om te veel weg te gee vertel Johnson dat wanneer aanhangers die musiekvideo kyk, sal hulle sien hoe ’n liefdemisterie ontstaan en hoe die meisie steeds nie gaan weet wie mal verlief op haar is nie. Hy glo dit is ’n storie waarby baie aanklank sal kan vind.

So jonk soos hy is, het dié jong sanger al die geleentheid gehad om die verhoog met verskeie bekendes soos Emo Adams, Robin Pieters, Jarrad Ricketts en Talitha Luiters te deel.

“Uit die ervarings het ek geleer dat jy nooit te goed is om sleg te raak nie en dat jy harde werk moet insit as jy groei wil sien en jou voete op die grond hou.”

Johnson het groot drome vir sy toekoms.

“Ek wil my storie deel met die wêreld deur musiek en mense inspireer deur liefdesmusiek en gospelmusiek aan hul bekend te stel.

“My advies aan dié wat ook die musiekbedryf wil betree, is so eenvoudig. Begin net en as dit is wat jy wil doen met jou lewe, sit God altyd eerste en als sal agterna in plek val,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article