In ’n oogwink kan jou lewe verander – sommer net so; sonder waarskuwing.

Ons is geneig om net alles as vanselfsprekend te aanvaar en is so vasgevang in ons daaglikse roetines dat ons vergeet om in die oomblik te lewe. Ons vergeet om te dink aan alles wat spesiaal is en ons vergeet om die lewe te geniet.

In die Weskus was daar ’n paar gevalle dié week waar die lewe van baie op ’n goeie en opwindende manier verander het, terwyl dit vir ander op ’n teleurstellende, hartseer en selfs tragiese noot geëindig het – die rooftog in Noordhoek waarin ’n man doodgeskiet is, die noodlottige ongeluk Woensdagoggend op die R27 waarin ’n bekende dokter dood is, en die tref-en-trap-voorval in Malmesbury waarin ’n vrou dood is om net ’n paar te noem.

In ’n oogwink het hulle hul lewe verloor en die lewe van hul geliefdes handomkeer verander.

Moenie toelaat dat dinge in jou verlede of hede jou keer om voluit te lewe nie. Pak daai projek aan, maak daai oproep en vat daai een tree vorentoe wat ’n verskil kan maak vir jouself en moontlik vir ander.

Lewe asof elke dag jou laaste is.

Dis makliker gesê as gedaan, maar vergewe dié wat jou leed aangedoen het voordat dit te laat is en koester dié vir wie jy lief is, want die lewe kan ’n oogwink verander.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article