Die Weskus-polisie sukkel al hoe meer met voorvalle waarin gemeenskapslede meineed pleeg, en in een so ’n voorval staar ’n inwoner nou dalk ’n klag van meineed in die gesig.

Volgens kapt. Tania Helfrich, polisiewoordvoerder, is meineed die misdryf om opsetlik ’n onware verklaring by die polisie af te lê of om ’n wanvoorstelling onder eed te maak.

By Vredenburg-polisie is onlangs ’n neiging bespeur waar sake gemaak word waarin die klaer(s) beweer dat meer eiendom, of groter en duurder eiendom soos televisiestelle of nuwer modelle selfone, gesteel of geroof is, as wat die waarheid is.

Die Vredenburg-speurtak ondersoek ’n klag van meineed na aanleiding van ’n diefstalklagte wat vroeër vandeesmaand by dié polisiekantoor ingedien is. Helfrich sê die klaer het beweer dat hy die slagoffer van diefstal was. Tydens die ondersoek is egter bevind dat hy oor die voorval gelieg het, wat hy erken het.

“Sy waarskuwingsverklaring is geneem en die saakdossier word nou gefinaliseer om na die senior­staatsaanklaer gestuur te word vir beslissing,” sê sy.

In enige geval waar ’n saak by die polisie aangemeld word, moet die klaer onder eed verklaar dat die inligting wat gegee is ’n ware weerspieëling is. Indien die polisie agterkom dat daar onreëlmatighede met die inligting is, gaan die klaer of sogenaamde slagoffer aangekla word van meineed. Hierdie soort oortreding is strafregtelik en word in ’n ernstige lig beskou. Helfrich maan dat dit ingevolge die wet strafbaar is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article