Nóg ’n memorandum en nog ’n pleidooi om die vrede te handhaaf.

Inwoners van Laingville is steeds ontevrede dat niemand vervolg sal word vir die dood van Leo Williams (9) in Augustus 2020 nie.

’n Groep gemeenskapslede het weer na die ingang van die buurt opgeruk nadat hulle Sondag (3 April) gehoor het niemand sal vir Leo se skietdood verantwoordelik gehou kan word nie.

’n Plan van aksie

“Prokureurs begin werk maak van die saak. Hulle sal ons binne die volgende sewe dae terugvoer gee oor die plan van aksie,” verduidelik die gemeenskapsaktivis Thyrone Williams (geen familiever­band met Leo).

“Daarna sal ons weer met die gemeenskap vergader om hulle terugvoer te gee.”

Dit volg ná ’n maande lange ondersoek van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) wat bevind het geen polisiebeampte van die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) sal vir Leo se dood aanspreeklik gehou kan word nie.

Leo is in 2020 deur ’n dwaalkoeël tydens betogings in die buurt getref. Die seun het gesit en televisie kyk toe ’n rubberkoeël, wat vermoedelik deur ’n polisiebeampte buite in die straat afgevuur is, hom in die kop getref het.

Leo se familie het later besluit om sy lewensondersteunende masjiene te laat afskakel nadat hy ernstige breinskade opgedoen het.

Ontevrede met antwoorde

Na afloop van Opod se ondersoek, wat bevind het geen voldoende bewyse bestaan om enigiemand te vervolg nie, het die gemeenskap Maandag 21 Maart ’n versoekskrif aan verteenwoordigers van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Opod oorhandig. Die hoop was dat die vervolgingsgesag sou besluit om die ondersoek te laat hersien.

Laingville-inwoners moes egter Sondag (3 April) in terugvoer van die NVG hoor geen vervolging sal geskied nie. Volgens die terugvoer hou die vervolgingsgesag by Opod se bevinding dat die skieter van die rubberkoeël nie geïdentifiseer sou kon word nie. “Die harde werklikheid is geen van die polisiebeamptes op die toneel sou selfs onder mekaar kan sê wie die noodlottige koeël afgevuur het nie,” lui ’n deel van die NVG se terugvoer.

Sommige inwoners het op die nuus na die ingang van Laingville opgeruk en die pad na dié buurt en St. Helenabaai met brandende bande versper. Klippe is ook na voertuie, wat op die pad gery het, gegooi.

Williams, ook ’n plaaslike raadslid, bevestig diegene wat na die pad opgeruk het, het nie op mandaat van die gemeenskap opgetree het nie.

“Tydens die vergadering die middag het ek en die burgemeester, André Truter, ’n pleidooi aan die gemeenskap gerig om die vrede te handhaaf,” verduidelik Williams. Pops is egter Sondag ontbied en die pad was vir ’n paar uur gesluit.

Williams sê die gemeenskap kry nou private regsadvies om te besluit wat gedoen kan word om geregtigheid vir Leo te laat geskied.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article