Alle paaie lei op 2 Maart na Paternoster.

Dit is vir die lede van die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie, oftewel SARFF. Sedert die totstandkoming van die Proteas Legends in 2021 hou die vereniging jaarliks ’n byeenkoms.

Vanjaar is die vierde aflewering van die Proteas Legends, die keer in Paternoster.

Die organisasie herdenk vanjaar ook 50 jaar sedert die spanne kragte teen die Britse Leeus in die Goodwood-stadion gemeet het.

Volgens Eddie Gurah, die voorsitter van die vereniging, het die ledetal stelselmatig gegroei van 52 tot die huidige 132 met nog baie spelers daar buite wat kwalifiseer om aan te sluit.

Lede kom van so ver as die Karoo, die Oos-Kaap en die Suid-Kaap. Bekende oud-Proteaspelers van die destydse Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie, soos Jack Juries, John Noble, Christie Noble, John Stubbs, Pompies Williams en Quinton Daniels, is lid van die vereniging.

Vanuit die Weskus se geledere kom Japie Julies, Quinton Cleophas, John Carolus, Heinther Adonis en Clifton Niemand van die Proteas-era.

Gurah, Rodger Daniels (onder-voorsitter), Vergil Groepe (sekretaris), Brian Poggenpoel (organiserende sekretaris) en John Isaacs (tesourier) asook Pompies Williams en John Stubbs is almal op die uitvoerende bestuur.

Die bestuur werk uit die hoofkantoor in Gordonsbaai saam met lede om onder meer hulp te verleen aan spelers wat dit nie te breed het nie of ’n behoefte aan gesondheidsbystand het.

In Desember word kruideniersware en ander hulp aan die spelers wat dit die nodigste het, geskenk.

Nog ’n doelwit van die vereniging is vir die Legends om hul kundigheid en vaardighede met huidige rugbyklubs en skole te deel as deel van dié spanne se ontwikkeling en ondersteuning.

Alle rugbyspelers wat tussen 1959 en 1994 onder die vaandels van die SARFF gespeel het, is welkom om aan te sluit.

Die organisasie werk ook daaraan om die geskiedenis van die SARFF in ’n boek te vervat. Enige foto’s of plakboeke van afgestorwe spelers is meer as welkom en kan gestuur word aan die sekretaris, Groepe.

Kontak Groepe via Whatsapp by 073 675 2102 of bel hom by 065 958 9918, of stuur e-pos na vergilgroepe@gmail.com

Almal is welkom om die byeenkoms op 2 Maart in Paternoster by te woon, hetsy om by die vereniging aan te sluit of net as belangstellende.

Hierdie byeenkomste bied ook goeie geleentheid vir rugbyspelers van toentertyd om weer oor die ou dae te gesels en wonderlike herinneringe op te roep, meen die Proteas Legends se bestuur.

Die vereniging bedank al sy skenkers wat hulle tot dusver so goed ondersteun het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article