Leerders van Vredenburg en party omliggende gebiede is gereed om die skooljaar aan te pak – dié dat hulle met trots met nuwe haarstyle pronk.
Meer as 300 kinders het Vrydag 13 en Saterdag 14 Januarie by die Louwville-gemeenskapsaal bymekaargekom om deel te wees van die “Back to school”- inisiatief wat deur New Hope, ’n organisasie sonder winsoogmerk in Vredenburg, aangebied is.
Die leerders is ter voorbereiding op hul nuwe skooljaar bederf deur hul hare te was, te vleg en te knip met die hulp van vrywilligers en Hype Nation.
Rolspelers soos Zoom Fibre het die kinders ook verras met skryfbehoeftepakkies, wat noodsaaklik is vir die skooljaar.
Claudia de Koker, wat in beheer van New Hope is, sê die opgewondenheid onder die kinders was groot.
De Koker het elkeen wat ’n rol vervul het om die twee dae ’n sukses te maak, vir hul bydraes en hulp bedank.
Sy moedig instansies en ander sakeondernemings aan om betrokke te raak by die projekte wat New Hope aanbied.
De Koker het groot drome vir New Hope en geniet dit om terug te gee aan die gemeenskap. “Dit wat ons doen, kom regtig uit die diepte van ons hart. Kom raak betrokke. Saam kan ons soveel doen. As ons almal saam werk, kan ons die Saldanhabaai- munisipale gebied na groter hoogtes neem,” het De Koker gesê.
Rolspelers het Zoom Fibre, Clicks, Hype Nation en talle ander ingesluit.





