Ek dink my regteroor het nog ’n rekmerk of twee waar my ouma (toe ek nog ’n peuter was) my aan die oor getrek het nadat ek oor ’n straat geloop en nie links, regs en weer ’n keer links gekyk het nie. Ek weet steeds nie hoekom ’n mens weer ’n keer links moet kyk nie, maar ek doen dit steeds – veral ná daardie episode.
’n Onlangse raakry-ongeluk by ’n laerskool in Gordonsbaai het my weer daaraan laat dink. Padveiligheid is iets wat ’n mens soms leer en daarvan vergeet, of dis iets wat jy glad nie leer nie, en dan betaal jy dalk met jou lewe daarvoor. Of is dit nie eens die geval nie – moet ’n gebroke stelsel en ’n gebroke pad-infrastruktuur nie dalk die skuld kry nie?
Die sesjarige seuntjie het gelukkig twee weke gelede se raakry-voorval oorleef, hoewel hy steeds in die Rooikruis-hospitaal in ’n koma lê.
’n Gebreekte sleutelbeen, gebreekte ribbes en ’n nier wat deur een van die ribbes raakgesteek is, is die ernstige beserings wat die jong laaitie in die voorval opgedoen het.
Die mannetjie het op ’n dag saam sy sewejarige boetie en sy niggie skool toe gestap. Hy moes toe eerste die pad oorsteek. Die M165 (Sir Lowry’s Pass-pad) is die meeste van die tyd ’n besige pad, maar soggens in spitsuur is dit op ’n ander vlak. Die seuntjie het volgens bystanders gekorrel en sy kans afgewag voordat hy die pad oorgesteek het. Hy het egter ’n voertuig nie sien aankom nie en per ongeluk voor dit ingehardloop. Sy broer en niggie het langs die pad gestaan en skree terwyl ’n ambulans ontbied is. Sy beserings was egter van só aard dat hy nie na die Helderberg-hospitaal geneem kon word nie; net die Rooikruis-kinderhospitaal kon hom help. ’n Rooi Air Mercy Service (AMS)-helikopter is ontbied terwyl paramedici die seuntjie en sy broer en asook niggie probeer rustig hou het.
In ’n gebied soos Temperance Town stap kinders daagliks skool toe.
’n Gemeenskapsaktivis in die gebied sê een uit elke drie (of vier) huishoudings se kinders hier moet skool toe stap. Dis ’n werklikheid wat baie kinders daagliks in die gesig staar. Ouers het nie altyd geld vir taxi’s of ander vervoer nie.
Dis stap of jy gaan nie skool toe nie.
Maar klein Rodwin was vasbeslote om by die skool uit te kom – soveel so dat hy sy lewe gewaag het om ’n besige pad oor te steek. Hy het geweet van die gevare, maar was daar ’n keuse en ’n ander uitweg? Stellig nie.
Net verbleikte kruisings sonder rooi ligte wat die verkeer laat stilhou en ’n groen lig wat kinders die kans gee om te stap.
Die afgelope Dinsdagoggend kom ek agter in sekere dorpe (soos Kleinmond, waar ek woon) is daar ’n padpatrollie voor die skool wat seker maak die leerders steek die pad veilig oor.
Almal is egter nie so gelukkig nie.
Sekere kinders moet die kans waag om ’n besige pad oor te steek – sonder ’n padpatrollie; sonder hulp, soos ’n sesjarige alleen tussen motors wat 80 km/h ry. Jy steek die pad oor of jy gaan nie skool toe nie – dis die werklikheid.
Kyk links, regs, en weer links, maar is dit genoeg om kinders se lewe te beskerm? Moet ons skole ander planne maak om kinders veilig by die skole te kry? Moet die mammas en pappas hul werk los en saam met die kinders skool toe stap? Nee, hulle moet werk vir brood op die tafel.
Wat is dan die oplossing? Kan ons kyk na ons gemeenskappe vir hulp? Kan iemand iewers opstaan en verseker dat leerders soos hierdie veilig by die skool uitkom? Hopelik is daar mense met goeie harte; mense wat ons kinders wil help, want links, regs en weer links werk nie meer nie.





