“Onderwys het my gekies.” Só sê Ivan Dwashu, ’n onderwyser by Hoërskool Diazville.

Dwashu is die afgelope vyf jaar in die onderwys en bied tegnologie vir graad 9- en lewenswetenskap vir graad 10-leerders aan.

Sy ander verantwoordelikhede sluit ook sportkoördinering in.

Volgens Dwashu het hy altyd respek gehad vir dié wat in die onderwys spore wil trap, maar hy het homself nie aan die begin in die beroep sien werk nie. “Ek het by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT) in Wellington in sportbestuur gegradueer en my nagraadse onderwyssertifikaat-kwalifikasie by KSUT Mowbray-kampus voltooi en by die Hoërskool Diazville gaan uithelp, waar die onnie-gogga gebyt het.”

Dwashu sê om ’n onderwyser te wees, is baie spesiaal en baie mense besef dit nie altyd nie. “Onderwysers is sielkundiges, advokate, ma’s, pa’s, mentors en soveel meer. Wat my dag as onderwyser maak, is die oomblik wanneer ’n leerder iets verstaan –veral in my vakgebied.”

Die aanbreek van Covid-19 het Dwashu se passie vir sport tot stilstand gebring. Dit het ook uitdagings gebring wanneer dit by lesse aanbied gekom het.

“Leerders het nie altyd gefokus soos in die verlede nie en daar was geen afleiding meer vir hulle nie.”Dwashu het deur die uitdaging aangehou om sy beste te gee en op koers gebly. “Ek kon en kan nie my leerders in die steek laat nie.”

Dwashu glo dat leerders nie as leë bottels moet beskou wat gevul moet word nie, maar as “kerse wat aangesteek moet word”.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article