Om die top-40 in die provinsie te haal, is ’n groot prestasie – en vir Isaiah Andreas ook.
Dié jongman het sy matriekjaar aan die Hoërskool Diazville voltooi en sy dorp, skool en provinsie baie trots gemaak. Isaiah het in die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen 89,3% behaal en is as die beste leerder in die skool aangewys.
Isaiah is ook as een van die top-40 leerders in die afdeling vir uitstekende prestasie in die provinsie aangewys.
Dit word toegeken aan die top-40 kandidate volgens die punte behaal in hul beste ses vakke.
Volgens Isaiah is hy ongelooflik bly en dankbaar oor sy uitslae. “Dit voel amper onwerklik om te sien hoe al die laatnag-studies en opofferings vrugte afgewerp het.
“Daar was tye dat ek moeg en moedeloos gevoel het, maar ek het myself herinner hoekom ek so hard werk. Hierdie prestasie bewys aan my dat deursettingsvermoë en selfdissipline regtig ’n verskil maak. Dit gee my selfvertroue vir die toekoms, want ek weet nou ek is in staat om groot doelwitte te bereik,” het hy gedeel.
Met sy prestasie as een van die top-40-matrikulante in die Wes-Kaap sê Isaiah dit het hom heeltemal onkant betrap. “Dit is nie elke dag dat jy sulke nuus kry nie. Eers was dit skok, toe opgewondenheid en toe net pure dankbaarheid. Ek het dadelik aan my ouers, onderwysers en almal wat my ondersteun het, gedink. Sonder hulle sou ek dit nooit kon regkry nie. Dit het my ook laat besef hoe belangrik ’n sterk ondersteuningsnetwerk is en dat niemand sukses op sy eie kan behaal nie.”
Sy skoolhoof, Paul Haricombe, sê die skoolgemeenskap is besonder trots op hul drie topkandidate se prestasies. Haricombe sê die gesogte prestasie wat Isaiah behaal het, is ’n eerste vir die skool as top-40 in die provinsie.
“Isaiah se prestasie is ’n bewys dat geleenthede vir verdere studies deur harde werk, deursettingsvermoë en opofferings ontsluit sal word. Isaiah is ’n ongelooflike ambassadeur vir ons skool, sy familie en sy gemeenskap. Ons wens hom net die beste toe met sy studies en weet hy sal ’n sukses daarvan maak,” voeg Haricombe by.
Isaiah meen hy het ’n streng studierooster gevolg. “Soms was dit moeilik om gemotiveer te bly, maar ek het myself aan my drome herinner en hoekom ek hierdie pad gekies het. Dit was nie maklik nie, maar dit was 100% die moeite werd.”
Vir 2025 is Isaiah se plan om chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Kaapstad te studeer.
Hy is opgewonde oor die nuwe avontuur wat voorlê.
“Ek sien uit na die oriënteringsdag, waar ek nuwe mense gaan ontmoet en begin om my voete op die kampus te vind.
“Dit gaan ’n groot verandering wees, maar ek is opgewonde om deel van so ’n dinamiese omgewing te kan wees.”





