Die nuwe jaar het skaars aangebreek en net so, in ’n oogwink, staan ons weer aan die einde van die tweede week van die eerste maand – met die besef dat tyd vlietend is. Tyd is een ding wat nooit stilstaan en wag vir ons om in te haal nie.

Die nuwe jaar word oudergewoonte beskou as ’n geleentheid om veranderings te maak, ’n skoon bladsy om te slaan, nog ’n begin vir jou lewensverhaal te skryf. Tog is die afgelope paar jaar gekenmerk deur onvoorspelbaarheid en het mense in ’n mate begin om nie te ver vooruit te beplan nie en die lewe dag vir dag te vat.

Die hartverskeurende brand by die pragtige Shelley Point-hotel in St. Helenabaai is net nog so ’n voorbeeld van hoe onvoorspelbaar die lewe soms kan wees. Vakansiegangers wat beplan en gespaar het vir hul verblyf se vakansieplanne is kortgeknip, personeel wat staat gemaak het op ’n vaste inkomste begin die jaar nou sonder werk en jare lange drome, die bloed, sweet en trane van die eienaars is ook tot niet.

Vandag, hierdie dag, is al waarvan ons ooit regtig seker kan wees. Dit is belangrik om drome te hê en dit na te jaag, maar moenie nalaat om teenwoordig te wees in die oomblik waarin jy jouself bevind nie. Maak tyd vir die mense wat belangrik is en probeer keer om dit wat prioriteit moet geniet uit te stel tot later, want “later” is nie altyd gewaarborg nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article