“Die hele storie is bog – dit is absurd.”
Dit is die sentiment van familie en vriende van twee Suid-Afrikaners wat vandeesmaand in Ekwatoriaal-Guinee in hegtenis geneem is.
Die Langebaner Peter Huxham (55) en sy kollega, Frederick Potgieter (53) van George, bevind hulle in een van Afrika se berugste tronke nadat hulle Donderdag 9 Februarie by die Anda China Malabo-hotel in verband met dwelm-misdrywe in hegtenis geneem is.
Die plaaslike polisie glo dié twee mans het te doen met ’n besending kokaïen wat Ekwatoriaal-Guinee met ’n internasionale vlug binnegekom het.
Weslander het met ’n familie-verteenwoordiger van Huxham gesels wat meen die inhegtenisnemings het te doen met ’n “politieke speletjie” nadat die sakeman Daniel Janse van Rensburg klagtes teen Ekwatoriaal-Guinee se visepresident, Teodorin Obiang, gebring het.
Van Rensburg is in die Black Beach-tronk aangehou – dieselfde tronk waar Huxham en Potgieter hulle nou bevind.
In ’n televisie-verslag oor die voorval is ’n onderhoud met albei mans gevoer.
“Nee, nooit in my lewe nie,” voer Potgieter aan oor die vermeende dwelmvonds. Huxham het op sy beurt gesê dit is gewis nie sy kokaïen nie.
Volgens die verslag van naWETIN, ’n Ekwatoriaal-Guinese televisienuuskanaal, het die twee reeds hul verklaring by die plaaslike polisie afgelê. ’n Ondersoek is glo van stapel gestuur om te bepaal of die dwelms wat gevind is, Huxham en Potgieter s’n is en of enige ander mense “betrokke was”. Die polisie ondersoek ook glo of die kokaïen vir verkoop in Ekwatoriaal-Guinee bestem was.
Teen druktyd is geen amptelike aanklagte teen Huxham en Potgieter gebring nie.
Die twee was van plan om die dag ná hul inhegtenisneming – Vrydag 10 Februarie – terug na Suid-Afrika te vlieg. Albei werk reeds jare lank vir ’n Nederlandse olie- en gasmaatskappy met bedrywighede in Ekwatoriaal-Guinee. Hulle was reeds ’n eerste keer in die hof volgens naWETIN.
Dit blyk die kans vir borgtog vir die Suid-Afrikaners is skraal, aangesien hulle as vlugrisiko’s aangesien kan word, omdat hulle nie ’n vaste adres in die land het nie.
Die George Herald het Sondag (19 Februarie) berig hulle het met ’n familie-verteenwoordiger van Potgieter gesels. Hoewel die familie nie in verbinding met Potgieter is nie, het dié verteenwoordiger gesê Potgieter het niks met dwelms uit te waai nie.
“Hy was op pad terug huis toe en het die nag in Ekwatoriaal-Guinee deurgebring om sy vlug te haal. Hy is in hegtenis geneem nadat hy na bewering dwelms gebruik en dit vervoer het. Dit kan onmoontlik waar wees, aangesien hy glad nie dwelms van enige aard gebruik nie,” het die familielid verduidelik.
Vriende van Huxham het ook teen sy inhegtenisneming uitgevaar. Intussen wag die familie op hete kole om enige nuus van die twee mans te hoor.





