Darling en Langebaan het mekaar Saterdag (22 Februarie) in ’n vriendskaplike wedstryd op die Gabriel Pharoah-sportterrein in Darling gepak.
Die wedstryd, wat in winderige toestande plaasgevind het, het die tuisspan ietwat bevoordeel omdat hulle meer gewoond aan die plaaslike weerstoestande is.
Die span van Langebaan het hom egter nie deur die onplesierige wind laat ontsenu nie en die wedstryd goed begin deur die eerste drie te druk toe die haker, Joseph Nombewu (Kolani), oor Darling se doellyn bars. Die doelskop was ongelukkig mis en Langebaan het met 5-0 voorgeloop.
Darling het egter vinnig teruggeslaan en ná uitstekende samespel tussen voor- en agterspelers ’n drie gaan druk en hom verdoel om die voortou met 7-5 te neem. ’n Strafskop vir onkantspel teen Langebaan het Darling se voorsprong verder tot 10-5 vergroot.
Albei spanne het die bal daarna rondgeslinger, maar kon egter geen sukses behaal nie. Toe die skeidsregter aandui dat die eerste helfte verstreke is, het die manne die uitnodiging aanvaar om te gaan afkoel met die tuisspan net-net voor met 10-5.
Langebaan het ná rustyd met meer vuur gespeel en twee skitterende drieë behaal. Ongelukkig kon die besoekers se stelskopper nie sukses behaal met die doelskoppe nie en hulle het toe met 15-10 voorgeloop.
Die melkboere het met pragtige spel Langebaan uitoorlê en ’n verdoelde drie gedruk wat die tuisspan met twee punte laat voorloop het, met die telling 17-15.
Twee vinnige drieë deur Darling het Langebaan se wind uit die seile gelig. Ongedwonge foute deur Langebaan en beter balbesit en konstruktiewe rugby aan Darling se kant het hulle net ’n paar treë voor Langebaan geplaas.
Hoewel Darling die tuisskarevoordeel en ’n voorsprong van 10 punte geniet het, het Langebaan nie moed opgegee nie. In die laaste paar minute van die wedstryd het die besoekers karakter getoon en die bal op goeie vaart tussen die voor- en agterspelers beheer, wat tot hul vierde drie van die wedstryd gelei het. Hierdie keer het Langebaan se stelskopper seker gemaak hy klits die doelskop oor.
Darling het die wedstryd met 27-22 gewen maar Langebaan kan tevrede voel met hul spel.
Met die Boland-Grootuitdaagbekerwedstryde wat op 8 Maart begin, was dit die ideale geleentheid vir albei afrigters om die foute reg te stel.
Chester Gordon, wat ’n jong Darlingspan op Gabriel Pharaoh aangevoer het, het goeie karakter en dissipline op die veld getoon en dit kan vorentoe net verbeter.
Langebaan se hoofafrigter, Melbourne Davids, kan baie tevrede wees met sy spelers se prestasies teen Darling en hoop dat wanneer sy span die 2025 Grootuitdaagbekerseisoen op 8 Maart teen Paternoster in ’n wegwedstryd begin, hulle goed sal vaar.




