’n Saldanha-speler beur vorentoe met die bal terwyl Langebaan moet keer vir al wat hy werd is Foto: Alida Buckle


Langebaan het Saterdag sy grootste nederlaag van die seisoen gely toe hy in Saldanha teen die voormalige Boland-kampioen met 65-26 vasgeval het.

Langebaan, wat tans die voorlaaste plek op die punteleer beklee, het egter goeie rekenskap van homself in die eerste helfte gegee, maar kon nie al die gate in die tweede helfte toestop nie. Die twee spanne, wat mekaar in die eerste 40 minute goed dopgehou het, het gaan water drink met die telling 22-14 in die tuisspan se guns.

Saldanha was op sy beurt weer sy ou self in die tweede helfte en het ’n allemintige 43 punte aangeteken teenoor die besoekers se skrale agt.

Langebaan sal egter die naweek weer verlore aansien wil herwin as Vredenburg se “Burg Boys” besoek aflê.

Saldanha, wat tans gerieflik voor is op die punteleer, kan egter nog nie gerus slaap nie. Vredenburg en Paternoster blaas hard in die voormalige Boland-kampioen se nek met ses punte wat die drie spanne skei.

Vredenburg, wat egter twee wedstryde minder gespeel het, het tans die beste kans van dié drie, terwyl St. Helenabaai, wat tans vyfde op die punteleer is, ook twee wedstryde minder as die res gespeel het.

St. Helenabaai onthaal die naweek Saldanha in wat ’n opwindende wedstryd beloof te wees.

St. Helena, wat die naweek in Paternoster vasgeval het, sal die wedstryd gou agter hulle moet kry. Die Agterbaaiers kan met ’n oorwinning hul kanse lewendig hou terwyl Saldanha meer gerus sal kan voel indien hy as oudkampioen weer met die louere kan wegstap.

Young Hearts van Pella, wat die naweek teen Velddrif vasge­val het, sal Paternoster onthaal. Met ’n nuwe gesig wat wag op die Grafkelder sal die besoekers, wat tans stert in die lug loop, op hul beste moet wees.

Volledige uitslae:

Saldanha 65-26 Langebaan, Paternoster 18-10 St. Helena, Vredenburg 46-31 Hopefield, Steenberg’s Cove 38-38 Mamre en Velddrif 30-22 Young Hearts. Die naweek se wedstryde:

St. Helenabaai t. Saldanha, Langebaan t. Vredenburg, Mamre t. Piketberg, Young Hearts t. Paternoster en Hopefield t. Steenberg’s Cove.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article