Die Weskus-jukskeidistrik het verlede jaar sy seisoen op 4 September begin en vandeesmaand op ’n hoë noot afgesluit.
Die laaste ligawedstryd is Saterdag (12 Maart) in Citrusdal gespeel, waar die jaareindgeselligheid en prysuitdeling gehou is.
Altesaam vier klubs was by die ligaseisoen betrokke – die Vredenburg-klub, die Langebaan-klub, die Citrusdal-klub en Berg en Dal.
Die vyf ligawedstryde wat deur die seisoen gespeel is en die vier interdistrik-wedstryde waaraan Weskus deelgeneem het, was gewis hoogtepunte. Die groot toernooi waaraan die plaaslike spelers deelgeneem het, was die MP Prinsloo-toernooi in Beaufort-Wes.
Die seisoen het nou ná sewe besige maande aan ’n einde gekom en ’n wenner moes aangewys word.
Die klub wat die meeste wedstryde hierdie seisoen gewen en as die wenners aangekondig is, is die Langebaan- jukskeiklub.
“Baie geluk aan die Langebaan-klub- en die Weskus-jukskeispelers wat streekskleure verwerf het. Baie dankie aan elke Weskus-jukskeispeler vir jul opoffering vanjaar om Weskus-jukskei so ’n sukses te maak. Ons is trots op julle en sien uit na die 2022-’23-seisoen,” het MJ Pietersen, voorsitter van die Weskus-jukskeidistrik, gesê.




