Die atlete van die Langebaan Primêre Skool het die afgelope naweek in ’n snikhete Porterville as lid van die Weskus-laerskolespan aan die Wes-Bolandse laerskole-atletiekbyeenkoms deelgeneem.
Die atlete het hulle uitstekend van hul taak gekwyt en topprestasies gelewer. Joshwinn Cross was die toppresteerder en is as die Wes-Boland-kampioen in seuns o.11- verspring, 70 m-hekkies, 80 m en 100 m gekroon. Sy skitterende tyd van 11.18 sekondes in die 70 m-hekkies is tans een van die beste in Suid Afrika. Sy afrigter, dr. Frans Venter, is baie ingenome met sy vordering as hekkiesatleet.
Die volgende atlete is ook as Wes-Boland-kampioene gekroon: Caydon Vraagom (verspring en 1 200 m), Xavier Lewis (1 200 m), Angell Pholman (800 m en 1 500 m), Raquel Swarts (800 m en 1 500 m), Damian Karolus (1 200 m) en Demeca Linnerd (verspring).
Die atlete gaan ook hul skool die komende Saterdag by die Boland Primêre skoolatletiek-kampioenskap by die Dal Josafat-stadion in die Paarl verteenwoordig.





