Wyle Romay van Rooyen, landdros by die Vredenburg-landdroshof.


Sy het gevoel sy wil ’n betekenisvolle bydrae aan die mense van die Weskus maak.

Romay van Rooyen (50), die landdros wat Saterdag 10 September dood in haar huis in Muizenberg aangetref is, het sedert Oktober verlede jaar by die Vredenburg-landdroshof gewerk.

Romay is vermoedelik vermoor en die omstandighede wat tot haar ontydige dood gelei het, is steeds ’n raaisel. Die saak word egter nog ondersoek.

Sover het die spesiale ondersoekeenheid van die polisie, die Valke, wel aan Romay se familie bevestig dat sy aan “onnatuurlike oorsake” gesterf het.

Romay het die afgelope jaar gedurende die week tussen haar verblyf in Langebaan en haar werksplek in Vredenburg gependel en oor naweke huis toe gegaan.

Haar broer Tasswell het Woensdag aan Weslander gesê Romay was versot op die Weskus en veral die sout van die aarde soort mense wat in die gebied woon.

Volgens Tasswell was Romay opgewonde om binnekort haar huis in Marina Da Gama, Muizenberg te verkoop en ’n huis aan die Weskus aan te skaf.

Romay was egter bekommerd oor haar pa se swak gesondheid en die feit dat die familie haar ma ’n paar jaar gelede en haar jonger sussie net 10 maande gelede aan die dood afgestaan het. Romay het glo voorgestel dat haar pa saam met haar Weskus toe trek, maar haar pa was nie gereed daarvoor nie.

“My suster wou eers seker maak hy is oukei op sy eie voor sy Weskus toe trek,” het Tasswell verduidelik.

Romay se kollegas in Vredenburg het ná haar dood na haar familie uitgereik.

“Dis duidelik dat sy in ’n jaar se tyd ’n blywende indruk op hulle gemaak het,” het Tasswell gesê.

Hy sê haar Vredenburg-kollegas het aan die familie getuig van haar mooi werksetiek en omgeehart.

“Ons het gehoor hoe sy graag in die hofbanke saam met die families van die beskuldigdes en slagoffers gaan sit en gesels het om hulle moed in te praat.”

Volgens Tasswell is dit belangrik vir hulle as ’n familie om hulself in hierdie hartseer tyd te troos met ’n viering van Romay se lewe.

“Sy het gevoel sy is geroep om in Vredenburg te werk. Dis so jammer dat haar tyd so onnodig kortgeknip is,” het Tasswell bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article