Rolprentmakers, rolprentstudente en fliekvlooie van oral moet gewis hul 2022-kalenders van Woensdag 23 Maart tot Saterdag 26 Maart oophou.
Dít is die nuwe datums vir kykNET se spesiale tiende Silwerskermfees wat hierdie keer ’n byderwetse hibriede baadjie aantrek.
Dit beteken die fees sal die heel eerste keer in tandem uitrol by die Bay-hotel se Rotunda in Kampsbaai en virtueel op die Silwerskerm-webwerf, waar besoekers onder meer toegang sal hê tot presies dieselfde vollengte rolprente, kortflieks en bedryfsbesprekings.
Hoewel ’n beperkte aantal gaste die fees onder streng Covid-19-regulasies by die Rotunda sal bywoon, kan enigiemand in die land met internet dus waar ook al hulle verkies, die fees voor hul eie skerm geniet.
Daarbenewens sal van die vollengte-rolprente gedurende die fees by ’n aantal uitgesoekte rolprentteaters en addisionele venues in Kaapstad vertoon word.
Hoewel ’n geringe registrasiefooi vir die aanlynfees van toepassing sal wees, sal die opbrengs daarvan asook die kaartjieverkope by die venues wat vir die publiek oop is, aan die Tribuo-fonds geskenk word. Dié fonds is verlede jaar weens die uitwerking van die Covid-19-pandemie gestig om vermaaklikheidskunstenaars in finansiële nood by te staan.
Met 2022 se hibriede aanbod sal kykNET voortbou op die hoekstene van die Silwerskermfees om talent voor en agter die skerms in die plaaslike bedryf te ondersteun en ’n seminale vertoonvenster vir dié rolprentmakers se jongste projekte te skep.
Minste vyf nuwe vollengterolprente en sewentien kortflieks, wat onlangs met die mentorskap van die fees voltooi is, sal hul wêreldbuiging by die tiende kykNET-Silwerskermfees maak.
Hoogaangeskrewe internasionale rolprentlui sal ook hul kennis, ervaring en vaardighede by die fees deel en ’n paar opwindende verrassings wag op almal wat die vinger op die pols van die jongste storie-neigings wil hou.
Die volledige program vir die 10de kykNET-Silwerskermfees word binnekort bekend gemaak.
Intussen kan fliekliefhebbers gerus by die Silwerskerm-webwerf inloer. Die fees se aanlyn tuiste is bygewerk met ’n argief wat inligting oor al die vorige Silwerskerm-debuutflieks bevat. Daaronder tel ’n aantal spogflieks wat later talle internasionale toekennings ingeryg het.
2019 se Silwerskermfees-wenner vir die beste speelfilm, Poppie Nongena, waarvan Christiaan Olwagen, ’n vorige kortfliek-wenner, die regie behartig het, is byvoorbeeld in Oktober 2021 as die beste buitelandse rolprent by die BRICS-fees in Moskou, Rusland, gekroon. Dit het daar teen puik titels uit Brasilië, Rusland, Indië en China meegeding.
Die kykNET-Silwerskermfees het tradisioneel jaarliks in Augustus plaasgevind, maar in 2020 het dit die vorm van ’n drie dae lange webinaar aangeneem om plaaslike rolprentmakers die geleentheid te gee om skouers te skuur met internasionale rolprentfoendies terwyl die Covid-pandemie die vervaardiging van nuwe werk vertraag het.
Daarom moes die 10de verjaarsdagfees –aanvanklik beplan vir Augustus 2021 – ook uitgestel word.


