Die swart skaaphond was een van die eerste tekens.
Elke plek het ’n vingerafdruk van sy eie. Ja, die werklike dinge wat jy sien en wat mense doen, maar ook die klein alledaagse dingetjies wat ’n plek vir jou uniek maak.
Vir my was een van die eerste Weskus-prentjies die skaaphond wat by die huis op die hoek van my straat gewoon het. Smiddae, wanneer die kinders op die sportveld rondgehardloop en bal geskop het, was skaaphond daar. Hy het saamgespeel en geblaf. Ek kon hom ’n paar uur op elke oefendag saam met al die atlete hoor speel.
Soms is die dinge wat ’n plek vir jou spesiaal maak dieselfde soos vir andere, maar baie keer nié.
Die meeste mense staan in verwondering wanneer die werkers bokkoms en snoek met ’n gesoute hand vlek. Hierdie bekende Weskus-gesig is vir plaaslike inwoners sowel as besoekers ’n uniekheid van die streek.
Baie mense is betower deur die verhoog wat uit die koue Paternoster-waters vir die Jazz on the Rocks-fees rys.
Van die beste uniekhede van ’n plek is dit waarvan net jy weet, of liewer, dit is hoe dit voel. Dalk weet nie almal van jou spesifieke hengelplek nie, of nie almal weet waar om die beste vis en skyfies te kry nie, maar ons almal het dinge wat ’n plek vir jou laat uitstaan.
In St. Helenabaai is daar ’n balkon met ’n uitkyk oor die see en dit is een van my gunstelingplekke in die Weskus.
Hier kan jy die skepe sien lê en wag om in Saldanhabaai te kom. Op die stoep hoor jy elke voëltjie en kriek, en as jy baie gelukkig is, sien jy die bokkie wat elke nou en dan ’n verskyning in die tuin maak.
In Langebaan is ’n winkeltjie wat my laat besef die wêreld is eintlik vol mooi dinge – letterlike mooi, nuttelose items wat net vir die genot daarvan gemaak is. Hier besef ek weer nie alles hoef prakties en gebruiklik te wees nie en soms is dinge net gemaak vir die mooiheid daarvan en om ’n glimlag te bring.
Daar is riwwe en draaie wat ’n plek uniek maak, en leef jy lank genoeg met hierdie tipografie, word dit ook deel van jou. Dan weet jy ook net waar om op Shark Bay-strand te sit sodat die wind jou nie vang nie, maar jy tog die kinders in die water kan dophou.
Spring jy naweek na naweek op jou fiets om ’n spesifieke bergfietsroete in die Bergrivier aan te pak, en jy weet waar jy stadiger moet ry, watter draai kom skielik op jou af en waar jy sommer by ’n heuwel af kan “vlieg”.
Dalk is ’n vingerafdruk van jou buurt wat jou bybly daardie kafee waar almal ná skool bymekaargekom het – daar op die rooi, gladde stoep wat warm gebak is ná ’n lang dag in die son . . . Hier het jy suckers saam met jou vriende geëet en mense dopgehou.
Die vingerafdrukke van plekke is egter nie altyd goed nie, en dalk het jy jou eintlik al ’n paar keer vasgeloop met iets wat ’n plekkie uniek maak.
Dit is soos daardie een handvatsel waaraan ek keer op keer vashaak. Te veel van my klere het al in die slag gebly soos dié uniekheid my gevang het.
Ek vermy nou die handvatsel.
Vir ander mense is dit dalk daardie spesifieke kerkbank wat hulle vermy, want sit jy daar, kan jy maar weet ’n splinter gaan jou kerkklere haak.
Daar is dalk daardie spesifieke plek langs die rugbyveld met ’n verdoeselde gat waarin jou voet gereeld insink wanneer jy nie onthou nie en jy jou oë op die aksie hou om daardie week se agterblad-foto te neem.
Hoe ook al die vingerafdruk van ’n spesifieke plek vir jou lyk, sal daar een wees – ’n prentjie wat dalk soos baie ander s’n lyk of dalk klein goedjies wat ’n plek vir jou spesiaal maak.
Vir my sal die Weskus se vingerafdruk soos spelende skaaphonde lyk, soos bokkoms en fynbos ruik en soos seesand tussen die tone voel.





