Onbeplande tienerswangerskap is menige ouer se groot vrees.
Hoe voorkom jy dat dit met jou dogter gebeur? En wanneer die spreekwoordelike koeël wel deur die kerk is, hoe hanteer ’n ouer hierdie lewensveranderende saak, wat gewoonlik baie traumaties vir die ouers en die betrokke tieners is?
Dalene du Plessis, ’n sielkundige berader wat in die Saldanhabaai- en die Bergrivier- munisipale gebied praktiseer, deel graag haar raad met ouers:
“Moenie dink dit kan nie met jou kind gebeur nie,” waarsku sy.
“Wees eerder voorbereid op die werklikheid van waaraan vandag se kinders blootgestel word, praat eerlik met jou kind en lê die grondslag van goeie waardes al op ’n jong ouderdom,” beveel Du Plessis aan.
Voorkoming van tienerswangerskap . Niks vervang ’n goeie verhouding met jou kind nie. Wees altyd daar vir jou kind. . Bemagtig jou kind met goeie waardes en norme. Jy is jou kind se voorbeeld.. Oop kommunikasie met jou kind is uiters belangrik. Moenie haar probleme “wegpraat” nie. Gee erkenning aan wat sy ervaar en hoe sy voel, want anders dink sy haar probleme is nie vir jou belangrik nie. Dit kan haar ontmoedig om volgende keer met jou oor ’n probleem te praat.. As sy vrae oor “bytjies en blommetjies” het, antwoord die kind op ’n ouderdomsgepaste wyse. . Moenie só antwoord dat die kind later ’n negatiewe, ongesonde konnotasie aan seks heg nie. . Vir sommige ouers is dit moeilik om met hul kinders oor seks te praat, maar dit bly elke ouer se verantwoordelikheid. Kinders word op skool aan basiese seksonderrig blootgestel en hulle sien dit op televisie. Praat met jou kind, anders gaan die wêreld jou kind oor seks leer.. Besoek jellybeanz.org.za. Dis ’n uitstekende hulpbron vir ouers om hulself te bemagtig met praktiese raad, inligting en kommunikasievaardighede. . ’n Kind moet weet een seksuele ervaring kan tot swangerskap lei. Gesels ook oor die geestelike, emosionele en fisieke gevolge van ’n seksuele leefstyl op ’n jong ouderdom, sowel as die finansiële en sosiale gevolge van ma word terwyl sy self nog ’n kind is. . Ken jou kind se vriende. Weet waar jou kind kuier. Laat toe dat jou kind sy of haar vriende huis toe bring sodat jy kan sien of jou kind in goeie geselskap is. . Wees versigtig om jou kind onbeperkte toegang tot die internet te gee. . Leer jou kind om nee te sê wanneer iemand onvanpas aan haar probeer vat.. Leer jou kind oor die gevare van die samelewing en dat nie almal goeie bedoelings het nie. Meisies moet byvoorbeeld weet daar is mans wat drankies dokter met die doel om hulle te verkrag.
Dit het gebeur. Hoe nou?. Weet dis normaal om woede en teleurstelling te ervaar. Gee die emosies tyd om ’n bietjie te gaan lê voordat groot besluite geneem word.. Onthou jou kind het jou nou nodig. Ondersteun jou kind.. Praat eerder met ’n vriendin as jy opgekropte emosie ten opsigte van die slegte situasie ervaar eerder as wat jy jou kind verskree.. Maak ’n afspraak vir jou dogter by jul huisdokter of ginekoloog om te bepaal of dit ’n gesonde swangerskap is. Win alle mediese kennis in.. Dis belangrik dat jou kind met ’n sielkundige of maatskaplike werker gesels. Soms het die ouers net soveel emosionele ondersteuning en traumaberading as die swanger tiener nodig . Maak die swanger tiener en die seun wat die meisie swanger gemaak het, betrokke by belangrike besluite ten opsigte van die ongebore baba en die pad vorentoe.




