Noluvu Ludidi
Vir Brendon Samuels (25) het sy liefde vir kuns op dertienjarige ouderdom reeds begin. “In daardie tyd het dit meer as net ‘n stokperdjie geword; dit het gevoel soos ‘n manier om myself uit te druk, veral wanneer woorde nie kon nie. Ek onthou skets in skoolboeke, geïnspireer deur alledaagse dinge rondom my, en ek het besef stadig hoe kalmerend en vervullend die skep van kuns kan wees.”
Dié Vredenburgse inwoner deel ‘n passie vir kuns met potlood- skets en skilder. Met sy inspirasie wat uit die natuur met al sy mooi kleure, teksture,
landskappe en vorms kom, het Brendon al
talle kunswerke geskep. Hy glo hy kan ander mense deur sy werk inspireer en ‘n voorbeeld vir jongmense in sy gemeenskap wees – veral dié wat dalk nie hul tyd met die regte dinge deurbring nie.
Hy wil ook graag wys dat jongmense hulself met baie ander positiewe dinge kan besig hou en dat hulle nie in hul huidige moeilike omstandighede vasgevang moet voel nie.
Wanneer dit by sy kunswerke kom, sê Brendon alles begin met ‘n duidelike idee of ‘n rede waarom hy dit skep.
“Ek kyk na verwysingsbeelde,
buie of emosies wat ek wil uitbeeld.”
Volgens Brendon het alles uit nuuskierigheid en ‘n diep passie om homself deur die visuele uit te druk, begin.
“My eerste skildery was ver van volmaak, maar dit het my die waarde geleer om êrens te begin. Ek het meestal myself geleer deur middel van probeer en foute – net die kwas optel, met verskillende mediums eksperimenteer en nie bang wees om foute te maak nie. Ek het YouTube-
video’s gekyk, ander kunstenaars se werk bestudeer en amper daagliks geskets. Met verloop van tyd het ek begin verstaan wat gewerk het en wat nie. Ek leer steeds met elke nuwe stuk wat ek skep. Die verbetering het nie oornag gekom nie – dit het gekom deur geduldig te wees met die proses en die gedurige poging om beter as die vorige keer te doen.”
Brendon hoop om mense deur sy kuns te inspireer om die skoonheid in die klein dingetjies te sien, omdat dit die mag het om die egtheid van die wêreld te sien. “Ek wil hê ander – veral jongmense – moet weet dit is goed om jou uit te druk oor hoe jy voel en jou storie deur kreatiwiteit te vertel. My ontwerpe is persoonlik, maar ek glo hulle praat met enigiemand wat doelwitte met hart jaag. Die algehele boodskap wat ek wil agterlaat, is: Respekteer jou werk en beeld jou waarheid uit. Bly bestendig, ongeag in watter baan jy is. Maak dit joune met uitnemendheid en trots.”
Hy meen kuns help bewaar en kommunikeer kulturele erfenis, waardes en oortuigings. “Of dit deur tradisionele kunsvlyt, musiek of visuele kuns is – dit gee ‘n stem aan gemeenskappe en help mense met hul wortels en om met mekaar te verbind.”
Lennie Davids, wat Brendon goed ken, sê hy het reeds as tiener ‘n merkwaardige pad begin stap. “Sy liefde vir teken en veral skilderwerk het vroeg in sy lewe posgevat, en dit is duidelik dat hy ‘n natuurlike talent het, maar dit is sy doelwit agter die kuns wat werklik inspireer.
“Wat hom diep geraak het, was die toename in misdaad – iets wat baie van sy ouderdom dalk sou ignoreer. Maar in plaas daarvan om stil te bly, het Brendon gekies om ‘n positiewe verskil deur sy kuns te maak.
“Vir hom is skilder nie net ‘n stokperdjie nie, maar ‘n wekroep aan ander jongmense om op die goeie te fokus – op waardes soos vrede, verdraagsaamheid en medemenslikheid.
“Ek haal my hoed af vir
hierdie jongman, wat nie net sy talent uitleef nie, maar ook ‘n reusetree gegee het om ‘n verskil te maak in ‘n wêreld wat dit broodnodig het.”






