Sy liefde vir kuns kom al van kleins af, vertel Brendon Griffiths.
Dié inwoner van Diazville vertel dat hy ’n energieke passie en liefde vir enigiets kunstigs het en dat enigiets waaraan hy raak “in goud” verander.
Griffiths beskryf homself as ’n veelsydige kunstenaar wie se hande vir niks stilstaan nie. Om homself besig te hou, het hy as kind dikwels geteken, en dis waar die kunsgogga hom gebyt het.
Griffiths se kunsstyl het meer van ’n realistiese benadering en hy maak gebruik van verskeie mediums soos akriel-, olie-, materiaalverf en soveel meer. “Wat die Vader in al sy mooiheid gemaak het en wat mense nie raaksien nie, kan ek deur my kuns uitbeeld,” vertel hy.
Oor die jare het Griffiths homself meer bekend gemaak met verskillende style en sy eie styl in die kunswêreld gevestig.
Op die vraag wat kuns vir hom beteken, vertel Griffiths dat dit hom aan die mooi dinge in die lewe herinner en net die positiewe uit hom na vore bring. “Kuns gee my hoop; dis kosbaar. Dit maak nie saak hoe klein nie, kuns beteken alles vir my,” vertel hy.
Volgens Griffiths kan kuns in enige vorm bestaan, hetsy ’n fliek, gedigte, die mooiheid van die strand of die maan. “Almal waardeer die mooi dinge in die lewe.”
Griffiths het onlangs in Mei ’n muurkuns by ’n huis in Saldanha voltooi, waar hy homself in sy talente kon uitleef. Die huis beeld ’n unieke kunsstuk van ’n kliphuis by die see uit, gemaak uit klippe, akrielverf en vernis as afwerking.
Griffiths sê hy streef daarna om mense gelukkig te sien met die kuns wat hy vir hulle skep.
Vir die toekoms het Griffiths groot planne en hy wil graag kunsuitstallings hou. Hy is met nederigheid dankbaar vir wat hy tot dusver in die lewe bereik het.
Hy moedig aspirerende kunstenaars aan om hul kuns aan te hou beoefen. “Hou aan probeer; vra hulp en verduur kritiek.”
Bel Griffiths by 072 919 8060.





